|

Bloem-buurtwagte neem deel aan nasionale patrollie

Die AfriForum-buurtwagte in Bloemfontein het in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), gemeenskapslede, verskeie sekuriteitsmaatskappye en veiligheidsinstansies ’n nasionale massapatrollie op 19 April uitgevoer om polisiëringsigbaarheid te skep. Die aksie het omstreeks 20:00 begin en tot 04:00 die volgende oggend voortgeduur.

In hierdie paar uur is verskeie operasies suksesvol uitgevoer. Die buurtwagte het ondersteuning gebied op voorvalle wat via hul WhatsApp-noodgroepe en radionetwerk deurgegee is.


Altesaam 122 patrolleerders het aan die patrollie deelgeneem en ’n totaal van 2 270 km in 80 voertuie afgelê. Die hoofdoel van die patrollie was om sigbaarheid in die onderskeie gebiede te verhoog en sodoende misdaad teen te werk.


“Die Bloemfontein-buurtwagte sal voortdurend projekte aanpak en gereeld patrollies hou om misdaad in samewerking met die SAPD en ander veiligheidsinstansies hok te slaan en veiligheid te bevorder. Dit is belangrik dat gemeenskappe en organisasies saam hande vat om misdaad te bekamp. Die verhoogde sigbaarheid in die buurte speel ’n belangrike rol in gemeenskapsveiligheid en daarom is dit belangrik dat patrollies soos hierdie moet plaasvind,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.

AfriForum betuig hul dankbaarheid aan die stasiebevelvoerders van Parkweg-, Bayswater-, en Bainsvlei-polisiekantoor wat betrokke was by die patrollie, asook die volgende veiligheidsdienste: Die AfriForum911-reaksie-eenheid, VR Security, VR Med-ambulansdiens, Life Rosepark-hospitaal se nooddienste, ER24, ITR-sekuriteit, Pro Force Security, Bloemsec-sekuriteit, SecuriForce-sekuriteit, Fidelity ADT, Nissi Security en Senforce-sekuriteit

AfriForum wil graag ook elke patrolleerder en elke ander rolspeler wat deelgeneem het, bedank vir hul opofferings.


Raak betrokke by AfriForum en help sodoende om jou gemeenskap te beveilig. Sluit aan by www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings