|

AfriForum se Groblersdal-tak skenk inheemse bome vir ’n groener toekoms 

Groblersdal gaan nou nog ’n bietjie groener wees danksy ’n skenking van inheemse bome wat Maandag aan verskeie skole in die dorp sowel as die munisipaliteit gemaak is. AfriForum se Groblersdal-tak het Maandag witolienhoutbome aan Laerskool Julian Muller, Hoërskool Ben Viljoen, CVO Gromar Landbou Akademie en die Elias Motsoaledi Plaaslike Munisipaliteit geskenk as deel van dié burgerregteorganisasie se jaarlikse Boomplantmaand-projek.

Volgens Coenie Meyer, AfriForum se Groblersdal-takvoorsitter, is AfriForum op verskeie maniere betrokke by die bevordering van omgewingsvolhoubaarheid en die bewaring van Suid-Afrika se natuurlike erfenis. AfriForum se Boomplantmaand-projek vind elke jaar in aansluiting by Nasionale Boomplantdag plaas en het ten doel om die publiek oor die belangrikheid van bome in te lig en aan te moedig om inheemse bome te plant.

“Deur inheemse bome te plant, is ons nie bloot besig om die omgewing te bewaar en ’n mooier plek te maak om in te bly nie, maar wys ons ook dat ons hoop het vir die toekoms. Bome is veel meer as bloot ’n belangrike deel van die ekostelsel of ’n natuurlike hulpbron waarsonder niemand sal kan oorleef nie – dit is ook deel van ons erfenis,” sê Meyer.

Die nasionale algemene boom van die jaar vir 2023 is die witolien (Buddleja saligna, SA-boomnommer 636), terwyldie nasionale skaars boom van die jaar die Vanwykshout (Bolusanthus speciosus, SA-boomnommer 222) is. AfriForum moedig gemeenskappe aan om inheemse bome te plant wat goed in hul omgewing aard.

“Boomplantmaand bied die perfekte geleentheid om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer en die AfriForum-tak in Groblersdal onderneem om hierdie sorg te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons hier is om te bly en hoop vir die toekoms het,” meen Hendrik Kotze, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Waterberg-streek.

Die Groblersdal-tak moedig die gemeenskap aan om by die veldtog betrokke te raak en deel te word van ’n beter én groener toekoms.

Soortgelyke plasings