|

AfriForum se Marico-buurtwagte ontvang brandbestrydingsopleiding

Die AfriForum-buurtwaglede in Rustenburg, Mooinooi en Brits het op 20 November basiese brandbestrydingsopleiding ontvang. Sowat 12 buurtwaglede het die opleiding, wat deur Forum Sekuriteit aangebied is, bygewoon. Die inhoud van die kursus het onder meer die identifisering van verskeie soorte brande en die toepaslike prosedures in die bestryding daarvan behels. 

“AfriForum besef dat daar ’n behoefte is om brande effektief te hanteer tot die brandweer by ’n toneel opdaag. Dit is ook nodig om die regte prosedure te volg wanneer ons bystand aan die brandweer verleen, sou dit van ons vereis word. Ons het daarom van die geleentheid gebruik gemaak wat Forum Sekuriteit vir ons bied om ons buurtwagte se kundigheid en vermoë ten opsigte van brandbestryding op te skerp,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

“Baie dankie vir die buurtwaglede wat tyd afgestaan het om die kursus by te woon om sodoende hulle vermoë om hulle gemeenskappe te dien te versterk. Die kursus het teoretiese en praktiese elemente ingesluit en ons is vol vertroue dat die opleiding die buurtwaglede in staat sal stel om brande te beheer. Die koste van die kursus beloop R850 per persoon wat ’n sertifikaat vir die geakkrediteerde kursus insluit,” sê Marius Muller, opleidingsfasiliteerder by Forum Sekuriteit.

Raak vandag nog deel van een van AfriForum se buurtwagte: SMS “Buurtwag” na 45351 (R1).

Soortgelyke plasings