| |

AfriForum se Naboomspruit-tak hou padblokkade saam met SAPD

AfriForum se Naboomspruit-tak het op 11 September 2020 saam met die Naboomspruit SAPD en Limpopo Verkeersdepartement ’n padblokkade gehou.

AfriForum-lede het die SAPD bygestaan met die padblokkade waartydens voertuie ook deursoek is. Lede van die publiek het gehelp om voertuiglisensies te kontroleer en die verkeer te reguleer, terwyl die SAPD voertuie afgetrek het. AfriForum het ook bystand verleen deur die voertuie se nommerplate na te gaan om te bepaal of die voertuie met onwettige aktiwiteite verbind word. Die nommerplate is gekontroleer deur middel van ’n mobiele LPR- (Licence Plate Recognition) stelsel wat beskikbaar gestel is in samewerking met Almogaver Kameraprojek, AfriForum en die JIS (Joint Information System).

Tydens hierdie aksie is 210 voertuie gestop en deursoek en twee boetes is uitgereik. Die doel van dié aksie was om sigbaarheid te bewerkstellig en misdaad te voorkom. Drie lede van die SAPD, sewe lede van die Limpopo Verkeersdepartement en agt lede van AfriForum het aan die aksie deelgeneem.

“Samewerking tussen die SAPD, Verkeersdepartement en gemeenskap is nodig om ’n daadwerklike verskil te maak. Ons sien uit om ons eie AfriForum-buurtwag te stig en ons nooi graag lede van die gemeenskap om saam met ons te werk om ’n veilige omgewing te skep,” sê Phillip van Staden, takvoorsitter van AfriForum se Naboomspruit-tak.

“’n Paar weke gelede het hierdie dorp een van die grootste protesoptogte teen plaasmoorde gesien. Dié gemeenskap wil egter nie net hul misnoeë uitspreek nie, hul wil opstaan en ’n verskil maak in hul dorp. Dit is nie ’n taak wat alleen aangepak kan word nie. Dit is dus verblydend om te sien hoe die Naboomspruit SAPD en Limpopo Verkeersdepartement hierdie taak, op ’n professionele wyse, saam met die gemeenskap aanpak,” sê Andries Opperman, AfriForum se veiligheidskoördineerder vir Limpopo.

Die AfriForum-tak in Naboomspruit gaan eersdaags ’n AfriForum-buurtwag stig. Om daarby betrokke te raak, laai die Telegram-toep af en soek vir @AfriForumBuurtBot (https://t.me/AfriForumBuurtBot).

Soortgelyke plasings