|

AfriForum se Potgietersrus-buurtwag lewer bystand ná skietvoorval

AfriForum se Potgietersrus-buurtwag het Saterdagaand, 10 Oktober 2020, op ’n skietvoorval gereageer en die SAPD bygestaan met die inhegtenisneming van verdagtes. Lede van die buurtwag het ook noodhulp aan die slagoffer voorsien.

Die takvoorsitter en buurtwagvoorsitter was vroegaand saam met ander buurtwaglede besig met ’n gebiedsverkenningaksie toe hulle te hore kom van ’n skietvoorval in Uitbreiding 17. Die buurtwag het onmiddellik reageer en was eerste op die toneel.

Die toneel is beveilig en die slagoffer, wat vier keer geskiet is, het noodhulp ontvang. Die SAPD en paramedici het kort daarna op die toneel aangekom en twee verdagtes is in verband met die skietvoorval in hegtenis geneem.

“Die buurtwag beoog om ’n volhoubare, stabiliserende rol in die gemeenskap te speel. Die werk wat ons doen, het ten doel om ’n veilige toekoms vir ons kinders te skep. Ons is dankbaar dat die plaaslike SAPD ook die belangrikheid hiervan besef en dat hulle met ons saamwerk om dié doel te bereik,” sê Hennie de Vos, voorsitter van AfriForum se Potgietersrus-tak.

Robert Labuschagne, buurtwagvoorsitter, het ook die buurtwaglede bedank. “Misdaad dreig om ons land lam te lê, maar wanneer ons saamwerk aan ’n oplossing, skep ons hoop. Ons wil graag lede van die gemeenskap aanmoedig om by hierdie span aan te sluit en ’n bydrae te lewer tot ’n veiliger omgewing,” voeg Labuschagne by.

Om by die AfriForum-buurtwag in Potgietersrus aan te sluit, laai die Telegram-toep af en soek vir @AfriForumBuurtBot (https://t.me/AfriForumBuurtBot).

Soortgelyke plasings