AfriForum se Springs-tak voorsien nuwe motor op waterkar om brande te beheer


AfriForum se Springs-tak het op 22 Junie 2018 ’n nuwe motor op ’n waterkar aan die gemeenskap van Endicott en Vischkuil voorsien. Dit volg nadat die kleinhoewegemeenskap die laaste maand deur baie veldbrande getref is, wat die tak genoop het om in te spring en die gemeenskap by te staan.
Die huidige motor van die waterkar wat tot die gemeenskap se beskikking was, het opgepak en dit het veroorsaak dat lede van die gemeenskap die brande self onder beheer moes bring sonder enige bystand. Endicott is ’n afgeleë gemeenskap en hul ligging maak tydige brandbestryding selfs moeiliker.

“Die afgelope tyd se veldbrande is die meeste brande waarmee die gemeenskap in etlike jare te doen gekry het en dit het die noodsaaklikheid van ’n werkende waterkar verder beklemtoon. Ons is baie dankbaar vir die bystand en ondersteuning wat AfriForum se Springs-takbestuur verleen het,” se Roben Collen, voorsitter van die Endicott-plaaswag.
“Ons het ook seker gemaak dat alle buurt- en plaaswaglede wat aktief by die brande betrokke was, voorsien is van die nodige veiligheidstoerusting en asemhalingsmaskers. Die oorsprong van die brande is nog onbekend, maar ons sal aanhou om die nodige ondersteuning te gee ten einde die situasie te beheer en te stuit,” sê Morné Greyling, veiligheidsvoorsitter van AfriForum se Springs-tak.
“Hierdie dien weereens as bewys dat dit van kardinale belang is dat gemeenskappe self moet verantwoordelikheid neem vir hul omgewing en dat ons mekaar in tye van nood moet ondersteun,” sluit Cornel Swart, voorsitter van AfriForum se Springs-tak, af.

Raak vandag by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke: SMS “Buurtwag” na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings