|

AfriForum se traumavrywilligers prakties opgelei om by plaasaanvalle te help

AfriForum se traumaeenheid het op 18 Mei 31 traumavrywilligers van die noordstreek opgelei om slagoffers van plaasaanvalle en geweldsmisdaad op die toneel te help. Weens die toename in hierdie tipe misdade het die behoefte aan traumaondersteuning toegeneem. Magda Coetzee en Izel Kruger, traumaberaders van AfriForum se traumaeenheid, het dié vrywilligers met die nodige kennis en vaardighede toegerus.

Die 31 vrywilligers is van verskeie buurt- en plaaswagte uit Alberton, Apiesrivier, Benoni, Brakpan, Brits, Delmas, Germiston, Hartbeespoort, Kemptonpark, Krugersdorp, Midvaal, Roodepoort, Secunda en Vanderbijlpark afkomstig.

Die praktiese opleiding is by AfriForum se hoofkantoor in Centurion aangebied. Die opleiding rus vrywilligers toe om slagoffers van plaasaanvalle op die toneel emosioneel te ondersteun, asook te bemagtig en in hul onmiddellike behoeftes te voorsien. Realistiese tonele is vir die kursusgangers geskep om hul vaardighede op die toneel op te skerp. 

“Die vrywilligers het baie baat gevind by die praktiese opleiding en hulle het nou die nodige vaardighede om ondersteuning aan slagoffers in hul gemeenskappe te verleen. Hierdie opleiding en vrywilligers is ’n waardevolle toevoeging tot gemeenskapsveiligheid en ons hoop dit kan nog verder uitgebrei word,” sê Coetzee.

AfriForum se traumaeenheid moedig buurtwagte en takke aan om deurgaans vrywilligers vir die eenheid te werf om sodoende die eenheid se vermoë om slagoffers tydens plaasaanvalle te ondersteun te versterk.

Soortgelyke plasings