|

AfriForum se Ventersdorp-buurtwag help om misdaad te bekamp

Die AfriForum-buurtwag in Ventersdorp was die afgelope maand baie besig om die gemeenskap te help beveilig.

’n Reaksiebeampte is tydens ’n winkelrooftog op 23 Januarie in die been gewond en ’n sekuriteitsvoertuig is gesteel. Die SAPD, die Ventersdorp-buurtwag en die sekuriteitsmaatskappy het saamgewerk en die voertuig is teruggevind. Nog niemand is in hegtenis geneem nie.

Enkele dae later het die buurtwag en sekuriteitslede op 29 Januarie vermeende kabeldiewe agterna gesit en ’n gesteelde kabel teruggevind, terwyl daar ook drie arrestasies gemaak is.

Verder het die SAPD en die buurtwag verlede week op ’n gewapende rooftog in Lichtenburg gereageer. Dit het in ’n jaagtog ontaard en die misdadigers is in Ventersdorp aangekeer. Daar is ook op twee voertuie beslag gelê.

“Dit is ongelooflik hoe hierdie buutwaglede net altyd bereid is om op te staan vir reg en geregtigheid. Hierdie suksesse is benewens die sigbaarheidspatrollies wat gehou word.  Die feit dat hulle baie goed saamwerk met die SAPD en die sekuriteitsmaatskappye dra by tot die sukses van hierdie buurtwag. Ek doen ’n beroep op inwoners van Ventersdorp wat nog nie ’n lid is van die AfriForum-buurtwag nie, om onverwyld aan te sluit en so ook by te dra tot die bekamping van misdaad,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

“AfriForum bewys weereens hulle is aan die toppunt van organisasies wat toegewyd is om ons gemeenskappe te beveilig, bewaar en te verbeter. Buurtwaglede kry opleiding om altyd binne die raamwerk van die wet op te tree en dus sien ander rolspelers raak hoe uiters professioneel patrolleerders optree om ons gemeenskappe te beveilig,” sê Joseph Renaud, AfriForum se streekshoof van gemeenskapsveiligheid vir die Sentraalstreek.

SMS “Ventersdorp” na 45344 (R1) om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings