AfriForum se Vryburg-tak bekommerd oor drinkwater

 

Die AfriForum-tak in Vryburg het vandeesweek dié dorp se drinkwater getoets as deel van die organisasie se jaarlikse blou-en-groendruppelprojek. Dit blyk dat daar rede tot groot kommer is aangesien die toets vir E. coli gereageer het. Die saak is by die Naledi Plaaslike Munisipaliteit se munisipale bestuurder aangemeld en hy is gemaan om sy onverwylde aandag daaraan te gee. Die plaaslike AfriForum-tak sal ook ’n monster by ’n laboratorium laat toets. Die gemeenskap word gevolglik versoek om geensins kraanwater te drink totdat die laboratoriumuitslae bekend is nie.

“AfriForum is bekommerd oor die toestand van die drinkwater in Vryburg. Dit is die munisipaliteit se plig om skoon water aan die gemeenskap te voorsien. Die AfriForum-bestuur sal alles in hul vermoë doen om druk op die munisipaliteit te plaas ten einde hierdie ernstige saak reg te stel,” sê Alta Pretorius, AfriForum se streekskoördineerder vir Stellaland.

Soortgelyke plasings