|

AfriForum se Vryheid-tak plaas munisipaliteit op terme

Die AfriForum-tak in Vryheid het die AbaQulusi Plaaslike Munisipaliteit op terme geplaas om die watertoevoer na die gemeenskap te herstel ná voortslepende wateronderbrekings.

Die tak eis ook antwoorde oor hoe hierdie probleem eens en vir altyd opgelos kan word.

Die AfriForum-tak het die munisipaliteit onder meer gevra wat die werklike rede vir die gedurige wateronderbrekings is en wat ’n aanvaarbare noodplan vir die onderbrekings is. Die munisipaliteit is ook gevra om ’n aksieplan saam te stel en om ’n waterdiens- en ontwikkelingsplan aan AfriForum beskikbaar te stel.

AfriForum sal ook ’n onafhanklike persoon beskikbaar stel om te help om dié waterkrisis op te los.

“Daar is gereeld wateronderbrekings. Die redes daarvoor is onaanvaarbaar en ’n aanduiding dat daar nie aandag aan die werklike probleem geskenk word nie. Daar is ook geen addisionele waterpompe indien die hoof waterpomp sou breek nie,” sê André van der Walt, voorsitter van AfriForum se Vryheid-tak.

“Ons sien daagliks hoe die infrastruktuur in KwaZulu-Natal agteruitgaan en AfriForum is teleurgesteld in die munisipaliteit se traagheid om hierdie probleem op te los. Ons het ook die premier se kantoor oor die situasie ingelig,” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se distrikskoördineerder vir KwaZulu-Natal.

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS jou naam na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings