|

AFRIFORUM SE WES-MOOT-TAK SKOP KAMERAPROJEK AF BY SUIDERBERG-RESERVOIR

AfriForum se Wes-Moot- en Sentraal-Moot-tak het op 9 Januarie 2021 ’n skoonmaakprojek rondom die Suiderberg-reservoir van stapel gestuur en bykomende sekuriteitskameras daar opgerig.

“Die gebied rondom die reservoir is uiters gewild onder drawwers. Die Magaliesberg se natuurskoon word egter deur indringerplante en -bome bedreig. Die veiligheid van die voetgangers word ook in gedrang geplaas as gevolg van die digte uitheemse bome en indringerplante wat skuiling aan boosdoeners bied,” sê Johan Liebenberg, veiligheidsvoorsitter van AfriForum se Wes-Moot-tak.

Taklede het gehelp met die ontbossing van dié indringerplante. Die projek vorm deel van die AfriForum-buurtwagte se beveiligingsprojekte in die Moot-area wat onder meer behels dat sekuriteitskameras opgerig word by brandpunte en strategiese punte, soos reservoirs. Sommige van hierdie reservoirs loop gereeld deur onder vandalisme en diefstal wat tot miljoene rande se skade en talle wateronderbrekings lei.

Die kamerastelsels by die reservoirs en ander dele van die Moot word gemoniteer deur AfriForum se Wes-Moot-tak se operasionele sentrum wat deel van die Moot Operational Command Centre (MOCC) vorm.

Die eerste fase is in werking by die Hercules-Oos-reservoir waar daar reeds verskeie suksesse behaal is en geen vandalisme of diefstal plaasgevind het vandat die projek daar in werking getree het nie.

“AfriForum se Wes-Moot-, Sentraal-Moot-, Pretoria-Wes- en Oos-Moot-buurtwagte vorm deel van die projek en patrolleer nou gereeld by die reservoirs in die omgewing. Verskeie buurtwagte, sekuriteitsmaatskappye en GPF’s gaan binnekort ook by die MOCC betrokke raak,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir die groter Pretoria-Noord-area.

Raak vandag nog by AfriForum betrokke en word deel van die oplossing: SMS jou naam na 45341 (R1).

Soortgelyke plasings