|

AfriForum-snuffelhond betrap verdagtes onkant

Die AfriForum-buurtwag in Germiston aan die Oos-Rand van Gauteng was op 12 Augustus met hul snuffelhond, Storm, op patrollie toe sy versteekte smokkelware uitgesnuffel het.

Storm is spesifiek opgelei om dwelmmiddels uit te snuffel. Tydens ’n blaaskans het die span ’n winkel by ’n plaaslike vulstasie binnegegaan om verversings te koop, toe Storm aan haar hanteerder aangedui het dat twee klante in die winkel smokkelware wegsteek.

By nadere ondersoek is gevind dat die verdagtes in besit was van ’n ongelisensieerde vuurwapen, sowel as dwelms.

Een van die verdagtes het van die toneel gevlug en is deur buurtwaglede agternagesit, maar het daarin geslaag om te ontsnap. Die ander verdagte is aan die SAPD oorhandig en aangekla vir die besit van dwelms en ’n ongelisensieerde vuurwapen.

“Ons is baie trots op die toewyding en waaksaamheid wat ons patrolleerders en snuffelhonde aan die dag gelê het. Snuffelhonde speel ’n geweldige rol om ons patrolleerders se vermoëns te versterk om verdagtes betyds te identifiseer en vas te trek,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid.

AfriForum het meer as 150 burgerlike veiligheidstrukture landwyd en sowat 10 000 vrywilligers wat ’n rol speel in die beveiliging van hul eie gemeenskappe.

Soortgelyke plasings