| | |

AfriForum se Marico-takke verskaf skolehulppakkette

AfriForum se Marico-takke het skolehulppakkette aan 12 skole in die area voorsien as deel van die #AfriForumStaanSaam vir Skole-projek, wat in samewerking met AfriForum Jeug van stapel gestuur is. Laerskool De Kroon, Hoërskool Brits, Laerskool Sonop, Laerskool Pansdrif, Akademie CVO Skool Derby, CVO Skool Lichtenburg, Laerskool Lichtenburg, Laerskool Burgersdorp, Hoërskool Lichtenburg, Laerskool Rustenburg, Laerskool Vastrap, asook CVO Skool Platinum het dié pakkette ontvang om hulle te help om gereed te wees om te heropen.

Die skolehulppakket bestaan uit COVID-19-inligtingstukke, patrone vir gesigmaskers, klaskamerplakkate, elektroniese termometers, handreiniger en handreinigerstaanders. Die waarde van een pakket beloop R6 500.

“AfriForum het baie versoeke van skole ontvang omdat hulle onvoldoende hulp van die Departement van Onderwys ontvang het. Daarom het AfriForum se takke in Rustenburg, Brits, en Lichtenburg aan die skoleprojek deelgeneem om sodoende te verseker dat leerders veilig terug kan keer skool toe om die 2020 akademiese jaar te hervat,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

AfriForum se Marico-takke wil graag nóg skole ondersteun in die uitdagende tye wat voorlê om te verseker dat hulle op ’n veilige wyse funksioneer. Die takke moedig gemeenskappe daarom aan om by die inisiatief betrokke raak: SMS jou naam na 45351 (R1) en word deel van die oplossing.

Soortgelyke plasings