|

AfriForum staan nuwe Wetsontwerp op Nasionale Staatsondernemings teen: Waarsku teen super-staatsfirma

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag geskrewe kommentaar ingedien oor die konsepwetsontwerp op Nasionale Staatsondernemings (2023) wat poog om ’n beherende maatskappy te skep wat die Departement van Openbare Ondernemings sal vervang. ’n Nuwe staatsbeheermaatskappy sal hierdie departement se bestuur van staatsentiteite oorneem en die staat die alleen-aandeelhouer maak.

AfriForum sit in sy voorlegging vier kritieke argumente teen die konsepwetsontwerp uiteen. Eerstens het AfriForum ernstige bedenkinge oor die voorgestelde beheermaatskappy, State Asset Management SOC Ltd, en vrees dat dit aanspreeklikheid en die skeiding van magte in die gedrang kan bring. Daarbenewens voer AfriForum aan dat die wetsontwerp ’n geleentheid vir privatisering misloop en die ekonomiese las van mislukkende staatsondernemings verleng. In die derde plek hou AfriForum vol dat potensiële voordele oor die hoof gesien word aangesien die voorgestelde wetgewing gesentraliseerde staatsbesluitneming bo ’n gedesentraliseerde benadering en verhoogde doeltreffendheid stel. Laastens is AfriForum van mening dat die voorgestelde wetsontwerp die risiko vir korrupsie, staatskaping en kaderontplooiing in staatsondernemings kan verhoog.

Volgens Charné Mostert, veldtogbeampte by AfriForum, dien die huidige wetsontwerp nie die openbare belang toereikend nie. “Wetgewing moet geskep word wat werklik die belang van die Suid-Afrikaanse publiek dien. Dit is onontbeerlik in die doeltreffende bevordering van staatsondernemings,” sê Mostert. Die huidige wetsontwerp maak die deur oop vir wanbestuur, begunstiging en besluite wat gemotiveer word deur politieke opportunisme eerder as die openbare belang.

AfriForum hou vol dat ’n einde aan staatondernemings gemaak moet word, gegewe die geskiedenis van wanbestuur, korrupsie en ondoeltreffendheid wat baie van hierdie entiteite teister. Privatisering van dié ondernemings sal markgedrewe doeltreffendheid en aanspreeklikheid instel. Dit is egter onwaarskynlik dat die ANC in hierdie stadium hierdie ondernemings sal privatiseer en daarom stel AfriForum onder meer die verpligte openbaarmaking van die politieke affiliasie van raadslede in staatsondernemings voor.

“Die Wetsontwerp op Nasionale Staatsondernemings sal na verwagting die bestuur van strategiese staatsentiteite transformeer deur die potensiële politieke invloed te vergroot. Soos in die verlede gesien is, is ongekontroleerde uitvoerende gesag in Suid-Afrika geneig tot onbeperkte misbruik. Staatsondernemings kan nie voortgaan om ’n politieke arena vir staatsamptenare se plundering te wees nie,” sluit Mostert af.

Soortgelyke plasings