| |

AfriForum staan Onderwyswetsontwerp teen, veroordeel Lesufi se polariserende kommentaar

Die burgerregteorganisasie AfriForum het opnuut ’n beroep op die publiek gedoen om die Wysigingswetsontwerp oor Basiese Onderwyswette, wat tot 15 Junie 2022 vir openbare insette beskikbaar is, te veroordeel. Dié beroep volg na aanleiding van Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir Onderwys, se kritiek gister (30 Mei 2022) teen diegene wat die wysigingswetsontwerp teenstaan.

In sy kommentaar het Lesufi volgens mediaberigte gesê dat die wetsontwerp op transformasie gerig is en dat hy vra dat die idee dat kinders wat een taal praat, net in een skool kan wees, “verslaan moet word”. Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is dit duidelik dat die LUR soos gebruiklik sy polariserende rasse-agenda volg en bewese beste praktyke vir onderwys, soos die belang van moedertaalonderrig, blatant ignoreer. Verder weet die LUR skynbaar nou nog nie dat Afrikaanssprekende kinders aan alle rasse behoort nie. “Dit is tragies as iemand in ’n gesagsposisie sy ideologiese agenda só stiksienig deurdruk dat hy homself bewys as ’n onkundige persoon wat onbevoeg vir sy pos is,” voeg sy by. “Die verdagmaking van kinders se behoefte aan moedertaalonderrig is onnodig polariserend en is internasionaal deur onderwysdeskundiges onteenseglik as onsinnig bewys.”

Sy plan van drie onderrigtale per skool is tot mislukking verdoem – in die praktyk regoor die wêreld is bewys dat waar verskeie tale per skool vir onderrig ingespan word, die sterkste taal oplaas die enigste gebruikstaal word – met ander woorde Engels in die Suid-Afrikaanse konteks. “Dit is nog ’n bewys van sy gebrek aan verbintenis tot moedertaalonderrig en die ontwikkeling van die land se tien inheemse tale,” verklaar Bailey.

Verdere belaglike uitlatings van die LUR gister sluit in dat hy meen die voorgestelde wetswysiging wat Graad R verpligtend gaan maak, sal kinders red van vroeëkinderontwikkelingsentrums waar hulle volgens hom “net eet, bid, slaap en sing”. Hiermee bewys hy ook sy gebrek aan kennis oor sentrums waar kinders toegang tot uitnemende voorskoolse ontwikkeling het, en ignoreer hy die 80% wanfunksionele skole in die land waar kinders in die departement se stelsel is, maar weinig meer as eet, slaap, bid en sing kan doen, selfs op hoërskool, soos TIMSS, PIRLS en ander toetse bewys het.

“Dan kla die minister ook nog sy begroting om nuwe skole te bou is te min, maar die addisionele begroting wat nodig is vir die inwerkingstelling van die planne vir Graad R, bedra R1,9 miljard. Dit maak nie sin nie,” sluit Bailey af.

Al hierdie uitlatings van Lesufi beklemtoon die noodsaak daarvan om die wysigingswetsontwerp teen te staan.

’n Aanlyn-petisie is deur AfriForum geloods om steun teen die wetsontwerp te verkry. Dit is reeds deur sowat 10 000 mense onderteken en is by redafrikaans.co.za beskikbaar.

Soortgelyke plasings