|

AfriForum-tak in Welkom maak rioolblokasies oop en vervang pyplyn

AfriForum se tak in Welkom het op 30 Augustus 2022 vir Fouche Loodgieters  aangestel om mangate en rioolpype op die hoek van Kennaugh- en Dvorakstraat te ontblok en skoon te maak. Dít volg nadat inwoners van Welkom, AfriForum met klagtes oor rou riool genader het wat op sommige plekke hul erwe en strate oorspoel en dat hulle al ’n geruime tyd probleme met hul dreine ervaar.

AfriForum het sedert Augustus 2019 reeds verskeie briewe aan die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit gerig oor rou riool in erwe. Die rou riool hou verskeie gesondheidsrisiko’s vir die inwoners in en dit vloei soms vir weke aaneen uit die mangate. Dit is op sommige plekke só erg dat mense om, en selfs deur die riool moet beweeg om by hul voertuie uit te kom. Die munisipaliteit het tot op hede egter geen poging aangewend om hierdie probleem op te los nie. Wat die situasie vererger, is dat dit nou aan die lig gekom het dat die pyplyn op sommige plekke verkeerd geïnstalleer is.

“AfriForum se Welkom-tak kan nie meer toekyk hoe mense elke dag in en om riool moet leef nie. Daarom het ons ingespring om die inwoners se omgewing te verbeter. Inwoners het die reg tot ’n skoon omgewing en dit is skokkend om te sien dat die munisipaliteit niks aan hierdie situasie doen nie. As hulle wel tenders aan kontrakteurs toestaan, word die werk nie reg gedoen nie en is dit van swak gehalte. Al die pyplyne moet nou vervang word as gevolg van die infrastruktuur wat grootliks verkeerd geïnstalleer is op plekke,” sê Johan Terblanche, voorsitter van die AfriForum-tak in Welkom.

“Munisipaliteite is veronderstel om hul verantwoordelikhede na te kom. AfriForum glo in selfdoen en ons sal, waar ons kan, self oplossings vir probleme vind. Ons is tans besig met die voorbereiding van ’n hofsaak teen die munisipaliteit oor die swak instandhouding van die pompstasies en die waterwerke, sê Chris Morgan, distrikskoördineerder vir die Hoogland. AfriForum sal voortgaan om hierdie probleme onder die munisipaliteit se aandag te bring en sal ook aanhou om druk toe te pas totdat dit reggestel is.

Die Welkom-tak nooi die gemeenskap uit om by die organisasie se toekomstige projekte en aksies betrokke te raak.

Sluit by AfriForum aan en word deel van die oplossing: SMS “Welkom” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings