|

AfriForum span waterkar in Kimberley in om brande te blus

Die AfriForum-buurtwag in Kimberley het op 28 Augustus in samewerking met die Sol Plaatje Plaaslike Munisipaliteit se brandweer, boere van die omgewing en die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) ’n brand buite dié stad geblus.

’n Veldbrand het omstreeks 13:00 naby die N8 ontstaan en na die R357 tussen Kimberley en Douglas en die N12 versprei.

“Die brand het groot skade naby die West End-psigiatriese hospitaal en die Kalahari Lodge aangerig,” sê Henk Coetzer, voorsitter van AfriForum se Kimberley-buurtwag.

Die brand is teen Sondag omstreeks 16:30 geblus. Maandagoggend was daar steeds smeulende stompe wat werkers, van die Kalahari Lodge, met brandblussers onder beheer gebring het.

“Die brand was baie naby aan die stad. As ons dit nie kon beheer nie was die nadraai dalk veel erger,” sê Coetzer verder.

Die brand het oor 5 km gestrek en het ongeveer 1,5 km in die veld in gebrand. Die AfriForum-tak in Kimberley het die Bakkie Sakkie met ’n waentjie in 2019 aangekoop as deel van dié buurtwag se plan om van hulp te wees ten tye van brande in en om die stad.

“Veldbrande is ’n groot probleem in die Noord-Kaap, en dit beskadig die veld wat vroeër vanjaar, nie lank ná die droogte nie, ’n buitengewone reënseisoen gehad het en onder ’n sprinkaanplaag gebuk gegaan het,” sê Lize-Mari van der Linden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.

Die nodige toerusting en mannekrag is nie altyd beskikbaar om brande te bestry nie, en dit maak die gebied baie kwesbaar.

“Ek wil graag my dank ook uitspreek teenoor almal wat gehelp het om hierdie brand onder beheer te bring en op dié manier groter skade voorkom het,” sluit Van der Linden af.

Vrywilligers wat by die plaaslike buurtwag betrokke wil raak, is welkom om vir Henko Visser, AfriForum se voorsitter van die Kimberley-tak, by 071 366 1043 te kontak.

Soortgelyke plasings