AfriForum hou nasionale patrollie in Limpopo


AfriForum se buurtwagte in Limpopo het op Vrydagaand, 6 April aan ’n nasionale patrollie deelgeneem om sigbaarheid in die verskeie provinsies te verbeter. Die patrollie is deur ses buurtwagte in die provinsie uitgevoer in samewerking met verskeie veiligheidstrukture, waaronder die SAPD.
Die ses AfriForum-buurtwagte wat deelgeneem het, het altesaam bykans 9 450 km met 75 voertuie tussen 18:00 en 6:00 die volgende oggend afgelê. Daar was altesaam 116 patrolleerders wat ’n totaal van 396 man-ure gewerk het om hul gemeenskappe en omgewings te beveilig. Daar het slegs nege voorvalle voorgekom.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo, was die patrollie ’n reusesukses. “Dit is wonderlik om te sien dat vrywilligers bereid is om soveel van hulle vrye tyd op te offer om te verseker dat hul gemeenskappe veiliger is. Ons kan ’n duidelike afname in onwettige aktiwiteite sien in gebiede waar ons buurtwagte aktief en doeltreffend patrolleer.”
Grobbelaar sê ook dat daar in die toekoms gepoog sal word om nog meer mense en strukture by die inisiatief te betrek. “Later vanjaar gaan ons weer ’n nasionale patrollie hou en ek sal graag wil sien dat gemeenskappe toenemend self verantwoordelikheid vir hul veiligheid sal neem deur by hierdie tipe aksies in te skakel.”

Jy kan help om jou omgewing te beveilig: Raak by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke deur “Buurtwag” na 45340 (R1) te SMS.

Soortgelyke plasings