Bly veilig voor, tydens en ná ’n litiumioonbattery- of sonpaneelstelsel brand met AfriForum-gids

Brande wat as gevolg van litiumioonbatterye en sonpaneelstelsels ontstaan neem wêreldwyd toe. Veiligheidsregulasies en -standaarde word nie vinnig genoeg aangepas om verbruikers genoegsaam toe te rus soos wat tegnologie ontwikkel nie.

AfriForum het daarom ’n gids saamgestel met wenke oor hoe om gereed te wees indien ’n brand van so aard sou ontstaan. Hierdie gidse sluit inligting oor voorsorgmaatreëls en wat om tydens só brand te doen en nie te doen nie.

Die wenke sluit onder meer die volgende in:

  • Moenie litiumioonbatterye aan uiterste temperature blootstel nie.
  • Maak seker dat ’n Klas B-brandblusser naby die battery geïnstalleer is.
  • Doen gereelde inspeksies en instandhouding op jou sonpaneelstelsel.
  • Maak seker dat jou sonpanele en litiumioonbatterye geïnstalleer word deur gekwalifiseerde, professionele persone wat plaaslike bouvoorskrifte en veiligheidsregulasies volg.

Volgens Tarien Cooks, rampbestuurspesialis by AfriForum, het voortslepende beurtkrag en ander kraguitdagings talle mense genoop om op alternatiewe maniere krag te voorsien. Namate die installering van sonpaneelstelsels en litiumioonbatterye toegeneem het, het die risiko’s rondom dit ook toegeneem.  “Indien hierdie batterye oorverhit of nie reg geïnstalleer is nie begin dit brand. Hierdie batterye moet nie net op enige plek in jou huis staan nie, die ideaal is dat dit in ’n aparte kamer met ’n brandalarm geïnstalleer moet wees waar die brand geïsoleer kan word indien dit nodig is.”

“Tydens ’n brand ontplof hierdie batterye wat daartoe lei dat die vuur vinniger versprei. Hierdie vure brand verskriklik warm en gee ook toksiese gasse af en daarom moet mense ingelig wees oor veiligheidsmaatreëls wat hiermee verband hou,” sluit Cooks af.

Volgens AfriForum moet daar meer bewustheid geskep word rondom die brandgevare van litiumioonbatterye aangesien dit nie so maklik is om die brande onder beheer te kry en te blus nie.

Soortgelyke plasings