|

AFRIFORUM BEVRAAGTEKEN PLAN OM GESKIEDENIS VERPLIGTE VAK IN SKOLE TE MAAK

AfriForum voel sterk daaroor dat gemeenskappe hulle geskiedenis beter moet leer ken en waardeer, maar bevraagteken die plan van die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Nathi Mthethwa, dat Geskiedenis ’n verpligte skoolvak moet word.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, kan Geskiedenis òf dien om wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe te bevorder, òf die teendeel bereik, naamlik om hulle verder te polariseer en minderhede as sondebokke voor te hou.

“Vir Geskiedenis om te inspireer en insig in die komplekse aard van die verlede te skep, is dit nodig dat feite objektief aangebied word,” het Bailey verklaar. “Die denkraamwerk van ons voorouers verskil hemelsbreed van dié van mense in die 21ste eeu en as Geskiedenis as wetenskap aangebied word, moet daar juis teen enige eensydige interpretasie van gebeure gewaak word.”

Bailey het genoem dat die onlangse uitlatings oor die “aanstootlikheid” van standbeelde wat voor 1994 opgerig is, juis die gebrek aan nuansering illustreer. “Dit is duidelik dat die regerende party Geskiedenis as propaganda-instrument wil inspan en feite wil verdraai om by hulle ideologiese raamwerk in te pas. Om by almal in die land waardering te skep vir die bydraes en opoffering van die geslagte wat ons voorafgegaan het, soos die aanhef tot die Grondwet inderdaad noem, kan daar nie ’n verledebeeld geskep word waar sommige figure in die openbaar geduld mag word, maar ander net in spesiale ruimtes gesien mag word nie. Net so min kan ’n vak op skoliere afgedwing word onder die voorwendsel dat dit harmonie gaan bewerkstelling, as dit ’n eensydige beeld van die verlede voorhou.”

“AfriForum bevorder die gebalanseerde aanbieding van die geskiedenis deur middel van uiteenlopende projekte en stel ons ten doel om die skepping van mites, slagoffers en sondebokke, asook alle ander vergrype met die wyse waarop die verlede vir ideologiese doeleindes weergegee word, bloot te lê en met feite te troef.”

Soortgelyke plasings