|

BOTSWANA-SAAK: HOFDATUM VASGESTEL VIR ONGEOPPONEERDE MANDAMUSAANSOEK

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het vandag bekend gemaak dat die Departement van Justisie en Korrektiewe Dienste versuim het om die mandamusaansoek te opponeer wat ten doel het om dié departement te dwing om wedersydse regshulp aan die Botswana-regering te fasiliteer in die Bridgette Motsepe-Radebe-aangeleentheid. Die departement het in gebreke gebly om enige formele stukke betyds te liasseer. Die aansoek is gevolglik op die ongeopponeerde hofrol geplaas vir 7 Julie 2021.

Ten spyte van die onvermoë of onwilligheid om die mandamusaansoek teen te staan, het die departement steeds geen formele terugvoer aan die Botswana-regering verskaf nie. Ten spyte van die vorige navraag waar die departement op erkende protokol en beleid gefokus het, duur die proses van informele kommunikasie van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) voort. Dit is uiters ongehoord dat die respondent in ’n hofaansoek geen formele kommunikasie oor só ’n belangrike aangeleentheid stuur nie en sou versuim om met die applikant se regsverteenwoordigers van rekord kontak te maak. Die direkte kontak met die Botswana-regering in hierdie omstandighede is ongehoord en onreëlmatig.

Die privaatvervolgingseenheid het ook bekend gemaak dat senior regeringsamptenare (die identiteit van die partye is aan die privaatvervolgingseenheid bekend) die banke oor hierdie aangeleentheid besoek het en dat hoewel daar pogings is om die Botswana-regering te oorreed om die aansoek terug te trek, die departement en die NVG in gebreke is om formeel terugvoer aan die Botswana-regering te verskaf.

Volgens adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, is dit verontrustend dat die departement wat belas is met die bestuur van die howe in gebreke sou bly om die reëls noukeurig na te kom. “Ronald Lamola, Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, het self te kenne gegee dat sy departement ’n dringende behoefte aan vernuwing het en dat die departement se rol behoort te wees om die strafregstelsel toeganklik te maak. Lamola se optrede in hierdie aangeleentheid en die blatante verontagsaming van hofreëls bewys egter dat sy departement self geen respek vir die regstelsel het nie. Dit blyk dat Lamola eerder daarop fokus om diegene met politieke verbintenisse te beskerm eerder as om sy departement reg te ruk.”

Nel het verder uitgewys dat die departement gou gespring het om lasbriewe uit te reik vir die arrestasie van Sheperd en Mary Bushiri wat van bedrog en geldwassery aangekla word, asook reeds met die uitleweringsproses begin het. “Dít terwyl die proses vir die uitlewering van beskuldigdes in twee van die ander internasionale sake waarby die privaatvervolgingseenheid betrokke is, bly sloer. Ismael Gafaranga en Alex Sugira, die beskuldigdes in die moord op Patrick Karegeya, die voormalige Rwandese hoof van Intelligensie, is byvoorbeeld steeds nie uitgelewer nie, nadat die moord reeds in 2014 gepleeg is. Dieselfde geld vir die uitlewering van Grace Mugabe vir die beweerde aanranding van Gabriella Engels in 2017. Dit blyk dat Lamola bloot die beginsels van die strafregstelsel wil toepas wanneer dit hom pas en nie ten opsigte van persone met politieke verbintenisse nie.”

Waar sekere ministers die Bushiri-aangeleentheid onmiddellik op sosiale media as ’n verleentheid beskryf het, het diesulkes geen kommentaar te lewer oor die Botswana-, Mugabe- en Gafaranga-verleentheid nie.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het opgemerk dat die NVG, en in dié geval die Departement van Justisie, se geneigdheid om selektief te vervolg en/of die reëls ten aansien van uitlewering en wedersydse regshulp selektief toe te pas, gelei het tot die totstandkoming van AfriForum se privaatvervolgingseenheid. “Hoewel die eenheid oorval word met klagtes van onbeholpenheid en/of belangeloosheid aan die kant van die polisie en die NVG, is die versuim in die bogenoemde gevalle opsetlik en tekenend van ’n politieke motief. Almal is nie gelyk voor die reg nie en AfriForum sal nie skroom om ongelyke behandeling voor die reg na vore te bring nie.”

Karegeya
Die NVG het in September 2019 lasbriewe bekom vir die arrestasie van twee van die vier vermeende moordenaars van kol. Patrick Karegeya, voormalige intelligensiehoof van Rwanda. Die NVG het op daardie stadium aangedui dat hulle in proses is om aansoek te doen vir die uitlewering van Ismael Gafaranga en Alex Sugira.

Dít volg nadat adv. Nel en AfriForum se privaatvervolgingseenheid die Karegeya-familie bygestaan het in die informele geregtelike ondersoek na die dood van Karegeya. Die Randburgse landdroshof het in April 2019 die saak terugverwys na die NVG om te besluit of hulle die verantwoordelike verdagtes, soos beslis in die hof se bevinding, gaan vervolg.

Die privaatvervolgingseenheid het op 10 Julie 2020 ’n skrywe gerig aan adv. Jacob Skosana, Direkteur-generaal (DG) van die Departement van Justisie waarin versoek is dat die DG bevestig of daar al met die uitleweringsproses begin is, asook watter stappe gedoen is om die uitlewering te verseker. AfriForum het ook afskrifte van die “rooi kennisgewing” versoek waarvoor die NVG by Interpol moes aansoek doen.

Grace Mugabe
Die NVG het AfriForum se privaatvervolgingseenheid in April 2019 ingelig dat hulle besluit het om aansoek te doen om Grace Mugabe aan Suid-Afrika uit te lewer. Grace Mugabe het in 2017 vir Gabriella Engels, ’n Johannesburgse model, met ’n elektriese verlengingskoord aangerand en ernstig beseer.

Die NVG het die privaatvervolgingseenheid op 2 Junie 2020 in kennis gestel dat die versoek vir die uitlewering van die beskuldigde na die Departement van Justisie verwys is vir bevestiging en versending na die Zimbabwiese regering in Julie 2019.

AfriForum het adv. Skosana op 10 Julie 2020 versoek om die vertraging te verduidelik, asook om die stappe bekend te maak wat die Departement gevolg het om die uitlewering te bewerkstellig. Tot op hede is daar nog geen terugvoer ontvang nie.

Soortgelyke plasings