|

BOTSWANA STEL GERRIE NEL EN LEDE VAN PRIVAATVERVOLGINGSEENHEID AAN OM BYSTAND TE VERLEEN MET MASWABI-VERVOLGING

AfriForum se privaatvervolgingseenheid, onder leiding van adv. Gerrie Nel, het vandag tydens ’n regstreekse uitsending aangekondig dat die regering van Botswana vir adv. Nel, adv. Phyllis Vorster (aanklaer) en Andrew Leask, hoofondersoeker by die eenheid, aangestel het om die voorverhoorverrigtinge in dié land se vervolging van Welheminah Mphoeng Maswabi te behartig.

Maswabi was ’n agent van Botswana se Direktoraat van Intelligensiedienste en word tans in die streeklanddroshof in Broadhurst vervolg vir die besit van onverklaarbare eiendom en die aflê van ’n valse verklaring met betrekking tot ’n paspoort. Verskeie mediaberigte van mediapublikasies in dié land maak verder bewerings teen Maswabi dat sy terrorisme gefinansier het deur geld te verskuif wat gekoppel kan word aan die voormalige spioenhoof in Botswana, Isaac Kgosi.

Bridgette Motsepe-Radebe, die vrou van oudminister Jeff Radebe en skoonsuster van president Cyril Ramaphosa, word ook in die media daarvan beskuldig dat sy, saam met Maswabi, ’n mede-ondertekenaar was van rekeninge ter waarde van miljarde pula. Adv. Nel en adv. Vorster is verlede jaar deur die regering van Botswana aangestel om sy versoek vir wedersydse regshulp in dié saak met betrekking tot Motsepe-Radebe met die Suid-Afrikaanse regering te fasiliteer.

“Die versuim van die Suid-Afrikaanse regering om uitvoering te gee aan Botswana se aansoek vir wedersydse regshulp het nie net veroorsaak dat sekere klagtes teen Maswabi teruggetrek word nie, maar ook konflik ten opsigte van die saak in Botswana veroorsaak. Dit is ’n pluimpie vir lede van die privaatvervolgingseenheid en AfriForum om internasionaal erken te word vir die werk wat ons doen. Dit gee nie net erkenning aan die unieke konsep van privaat vervolging nie, maar ook aan die konsep om kundige aanklaers en ondersoekers in een kantoor te setel wat sonder politieke druk op die reg kan fokus. Die beginsel van gelykheid voor die reg en vervolging sonder politieke inmenging is een van die hoofredes waarom die privaatvervolgingseenheid gestig is en dit behoort nie net in Suid-Afrika te geld nie, maar ook internasionaal,” sê adv. Nel.

Nel het ook aangedui dat daar steeds geen terugvoer kragtens die versoek vir wedersydse regshulp van die Departement van Justisie en Korrektiewe Dienste ontvang is nie. Die privaatvervolgingseenheid het in Desember 2020 bekend gemaak dat die Departement versuim het om die mandamusaansoek te opponeer wat ten doel het om dié departement te dwing om die wedersydse regshulp aan die Botswana-regering te verleen. Die aansoek is op die ongeopponeerde hofrol geplaas vir 7 Julie 2021.

Soortgelyke plasings