|

Centurion-tak se buurtspan help gemeenskap skoonmaak

AfriForum se Centurion-buurtspan het op 20 Mei skouer aan die wiel gesit en op die gemeenskap se noodkreet om die omgewing op te knap, gereageer. Gemeenskapslede in Eldoraigne uitbreiding 3 het ’n skoonmaakprojek geloods en dié buurtspan het nie twee keer gedink om in te spring en te help nie.

Op hierdie dag is daar 25 000 vierkante meter se gras gesny, ongeveer 70 sakke rommel opgetel en ’n paar ton se bourommel verwyder.

“Dit is verblydend om te sien hoe gemeenskapslede mobiliseer en besef dat dit tyd is om self weer aan die toekoms te begin bou. Met die huidige trant van staatsverval is daar geen ander keuse nie,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.

Ungerer sluit af deur die gemeenskapslede te bedank en ander ook aan te moedig om betrokke te raak in hulle gemeenskap. Wanneer gemeenskappe inisiatief neem sal AfriForum daar wees om te help.   

Klik hier om by die Centurion-tak aan te sluit en ’n bydrae te maak of stuur ’n e-pos na centurion@afriforumtak.co.za.  

Soortgelyke plasings