Dae dat staatsadministrasie nie hul werk doen nie is verby, sê regter


Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) moet AfriForum se regskostes betaal nadat hulle onvoorbereid by die Noord-Gautengse hoë hof opgedaag het, waar albei AfriForum se aansoeke teen die SAPD ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, 2000 (wetno. 2 van 2000) aangehoor sou word.
In die eerste aansoek versoek AfriForum die SAPD om syfers bekend maak van hoeveel staatsgeregistreerde vuurwapens tussen 2009 en 2014 deur hulle verloor of by hulle gesteel is. Voorlopige syfers dui aan dat sowat 6 000 vuurwapens in dié tydperk verlore geraak het.
In die tweede aansoek versoek AfriForum die SAPD om die laaste interne-ouditverslag oor opleiding binne die SAPD aan die burgerregte-organisasie beskikbaar stel. Dié inligting sal onder meer aandui hoeveel operasionele polisiebeamptes inderdaad bevoeg is om vuurwapens te dra.
Volgens Ian Cameron, AfriForum se veiligheidshoof, het die SAPD se regsverteenwoordiger egter onvoorbereid by die hof opgedaag en aangevoer dat hulle nie daarvan bewus was dat die saak vandag op die rol is nie.
Cameron sê voorts dat regter Hennie de Vos gesê het dat die dae verby is dat staatsadministrasie nie hulle werk doen nie. Die saak is tot Woensdag, 24 Mei 2017 uitgestel en regter De Vos het beveel dat die SAPD AfriForum se regskostes vir vandag moet dek.

“AfriForum is van mening dat die SAPD onverantwoordelik met staatsgeregistreerde vuurwapens omgaan, wat ’n direkte invloed op alle landsburgers se veiligheid het. Dit versterk AfriForum se inisiatief om gemeenskappe te mobiliseer om hulself binne die raamwerk van die wet te beveilig en misdaad te help bekamp,” sluit Cameron af.

Soortgelyke plasings