|

Delmas-buurtwag hou lugpatrollie

AfriForum se Delmas Valke-buurtwag het op 14 Julie ’n lugpatrollie met hommeltuie uitgevoer om die N12-snelweg vir motoriste te beveilig. Kriminele – soms swaar gewapen – teiken veral voertuie uit Johannesburg oor naweke. Daar is al in een aand tot ses insidente aangemeld.

Hierdie lugpatrollie is gereël nadat verskeie motoriste dié buurtwag genader het om in te gryp omdat daar ’n toename in “spiking” in die area naby Botleng is. “Spiking” is skerp voorwerpe wat in die pad gegooi word. Tydens dié patrollie is ’n spesifieke deel van die snelweg beveilig deur twee hommeltuie wat langs die pad vlieg.

Dié hommeltuie is met nagsigtoerusting toegerus wat dit moontlik maak om verdagte persone so ver as 400 m in die nag te kan sien. Hommeltuie is uiteraard baie meer effektief as gewone voertuigpatrollies aangesien verdagtes nie in die gras langs die pad vir die hommeltuie kan wegkruip nie.

“Hommeltuie maak dit moontlik om verdagtes op te spoor sonder dat hulle daarvan bewus is. Ons buurtwag kan dan ’n gefokusde reaksie loods om boosdoeners in samewerking met Delmas se plaaslike polisie vas te trek,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.

“Geen insidente is dié aand aangemeld nie. Ons is baie dankbaar daarvoor, maar ons sal nie rus totdat die kriminele vasgetrek is nie,” sê Carel Botha, leier van AfriForum se Delmas Valke-buurtwag.

Klik hier en sluit aan by AfriForum se Valke-buurtwag.

Soortgelyke plasings