|

Delportshoop-tak sorg vir lopende water by laer- en hoërskool

Die 575 leerders van Laer- en Hoërskool Delportshoop sal binnekort weer lopende water hê. Dit volg nadat die AfriForum-tak in Delportshoop parte vir die skool se boorgatpomp geskenk het en help met installasie.

Die tak het onder meer ’n nuwe kontroleboks vir die pomp, 100 m tou, klampe en pype geskenk om te help met die herstel van die boorgatpomp – ’n 100 m pyp sal ook geskenk word om water van die boorgat na die skool te herlei.

“Dink jou net in hoe dit vir hierdie kinders moes wees om nie water te hê om te drink, hande te was of om die toilette te spoel nie. Dit is ’n gesondheidsrisiko en iets wat die munisipaliteit veronderstel is om op te los veral omdat dit by ’n skool is,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Noord-Kaap.

Benewens die tak se ingryping by hierdie skool het hulle in Augustus gewerskaf met verskeie ander projekte in Delportshoop. Die tak het die area voor ’n stormwaterafvoersloot skoongemaak by die ingang van die dorp in Delportshoopstraat – waar water opgedam het en die bebosde area kon dien as wegkruipplek vir kwaaddoeners.

Verder het die tak het ook 21 slaggate gevul en herstel in Delportstraat. Daar is ook drie bakkie- en sleepwavragte vol vullis, wat in die dorp opgetel is, weggery.

Soortgelyke plasings