|

Dwelmsmokkelaars in Germiston-buurtwag se net vasgevang

AfriForum se Germiston-buurtwag het die afgelope naweek, met die arrestasie van sewe verdagte dwelmsmokkelaars en die inbeslagneming van ’n aansienlike dwelmvonds, ’n duidelike boodskap aan dwelmsmokkelaars in dié buurt gestuur en beklemtoon dat daar geen plek vir dwelms en ander vorme van misdadigheid in dié gemeenskap is nie.

Buurtwaglede het die afgelope Sondag gereageer op ’n beweerde voorval van huishoudelike geweld waar geweerskote gehoor is. ’n Slagoffer is met kop- en steekwonde aan die rug op die toneel aangetref. ’n Buurtwaglid het die toneel ondersoek en bevind dat die verdagtes na bewering in ’n gesteelde voertuig gevlug het. ’n Span is gemobiliseer om die verdagtes en die voertuig op te spoor. Tydens hierdie ondersoek is ’n afsonderlike insident gister aangemeld naby een van die adresse wat deur die buurtwag gemonitor word. Die buurtwagspan het onmiddellik, in samewerking met die plaaslike sekuriteitsfirma Mamba Sekuriteit en SAPD Primrose opgetree, waarna drie verdagtes gearresteer is. Die gesteelde voertuig is gevind en daar is beslag gelê op ’n groot hoeveelheid dwelms en wapens. Hierdie vinnige optrede het ook gelei tot die arrestasie van nog vier verdagtes deur die polisie.

Volgens Jurie Ferreira, distrikskoördineerder vir AfriForum se Oos-Rand-streek, het die uitstekende samewerking tussen die AfriForum-buurtwag, polisie en privaat sekuriteit bevestig dat gemeenskappe saam moet werk om sukses in gemeenskapsveiligheid te behaal. Hy het ook die buurtwag se doelgerigte optrede, vasberadenheid en uitstekende insig tydens die ondersoek geprys.

Die Germiston-tak doen ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te raak en by hul plaaslike veiligheidstrukture aan te sluit. Samewerking tussen alle belanghebbendes is van kardinale belang om ’n veiliger omgewing te verseker.

Soortgelyke plasings