|

Geregtelike ondersoek na dood van Deedat-gesin gaan voorlopig in April voort

Die geregtelike doodsondersoek (GDO) in die Johannesburgse landdroshof na Suraya Deedat en haar vier kinders sal voorlopig op 16 April 2020 voortgaan. Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, verteenwoordig Suraya se familie.

Suraya en haar kinders het in Julie 2011 in hul huis doodgebrand het. Niemand is nog vir hul dood aanspreeklik gehou nie. Die GDO gee belanghebbende partye die geleentheid om getuienis te toets en die landdros te help om tot ’n bevinding te kom oor wie of wat vir hul dood verantwoordelik was. Die enigste oorlewende is Suraya se man, Naeem Deedat, wat uit die badkamervenster ontsnap het.

Twee getuies het vandeesweek getuig. Danny Joubert, ’n brand-en-ontploffingsdeskundige, het op 18 Februarie getuig. Volgens Joubert se getuienis is die posisie waarin Suraya en haar kinders se lyke gevind is, verdag. Suraya het op haar rug gelê in ’n posisie wat daarop dui dat sy op haar knieë was en agteroor geval het, en al vier kinders was langs haar op hul rûe in die middel van die sitkamervloer. Joubert het getuig dat dit nie die tipiese posisie van mense is wat probeer het om van ’n brand te ontsnap nie, omdat hulle nie naby enige uitgangspunte was nie. Hy het ook getuig dat hy in sy hele loopbaan nog nooit gesien het dat ’n ma se liggaam nié bo-oor dié van haar kinders gevind is in ’n poging om hulle teen die brand te beskerm nie. Volgens Joubert was Naeem se weergawe ook hoogs onwaarskynlik dat die brand binne sekondes van ’n beheerde brand in ’n onbeheerste vlammehel verander het, tensy ’n brandversneller gebruik is.

Naeem se suster, Hassima Deedat, het getuig dat Suraya en Naeem ’n liefdevolle verhouding gehad het. Sy kon egter onder kruisverhoor deur adv. Nel geen verduideliking gee oor waarom Naeem na bewering een van die kinders se arm uitgehaak of ’n swanger Suraya na bewering in ’n bababedjie ingestamp het nie.

Jacob Polelo, ’n bystander wat op 13 Februarie getuig het, is gister deur Naeem se prokureur gekruisondervra.

“AfriForum se privaatvervolgingseenheid glo dat die GDO tot geregtigheid vir Suraya se familie sal lei. Dit is belangrik dat ons by sake soos hierdie betrokke raak, omdat geregtigheid moet seëvier, veral wanneer die Nasionale Vervolgingsgesag versuim om vervolging in te stel as daar prima facie bewyse van ’n misdaad is,” sê Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Soortgelyke plasings