|

Groblersdal-tak leer skole van herwinning

AfriForum se Groblersdal-tak het op 23 Maart hul herwinningsprojek in die dorp afgeskop deur drie herwinningspunte onderskeidelik by die Klouter Klitsies Kleuterskool, by die CVO Gromar Landbou Akademie se koshuis en by hierdie skool se kantoorarea aan te bring. Die tak wil graag met hierdie projek ’n verskil maak deur ’n gesonde omgewing te skep.

Die versamel- en sorteringspunte wat deur die tak by die skole gevestig is, vorm deel van die herwinningsnetwerk in Groblersdal. Die tak se rol in hierdie netwerk is dus om die rommel te versamel en te sorteer. In sekere gevalle kan slegs ’n gedeelte van die materiale herwin word. Daarna word die residu by die herwinningsaanlegte omgeskakel om hergebruik te word.

Hierdie projek gee aan leerders die geleentheid om te leer hoe herwinning werk deur self die rommel by die skool in verskeie dromme te sorteer.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak. Hierdie is net nog ’n stukkie gereedskap wat leerders kan inspan om in hulle gemeenskappe ’n verskil te maak,” sê Magdel Jansen van Vuuren, distrikskoördineerder vir Limpopo

Herwinning laat ’n mens toe om hulpbronne op ’n rasionele wyse te gebruik, veral nie-hernubare bronne, wat in die langtermyn kan bydra tot die behoud en beskerming van ons omgewing en die vermindering van besoedeling. Herwinning is ’n volhoubare manier om hulpbronne te gebruik sonder om enige skade aan die omgewing aan te rig.

“Ons sal self herwinningsprojekte aanpak en self instandhouding- en opknappingswerk doen om na ons omgewing om te sien,” sê Hendrik Kotze, takvoorsitter in Groblersdal.

Raak vandag nog betrokke by AfriForum se tak in Groblersdal: SMS “jou naam” na 45340 (R1) en maak op dié manier ’n positiewe bydrae.

Soortgelyke plasings