|

Krugerwildtuin-mynaansoek: Daar is ’n slang in die gras, maan AfriForum

AfriForum het vandag sy ernstige bedenkinge uitgespreek oor die mynregaansoek wat Tenbosch Mining (Edms.) Bpk. ingedien het en voer aan dat daar ’n slang in die gras met hierdie aansoek is. Die burgerregteorganisasie het ook sy regspan opdrag gegee om ’n brief aan dié mynmaatskappy se nuwe omgewingskonsultasiefirma, Kimopax Group, te stuur.

AfriForum het sy kommentaar oor Kinopax se omgewingsimpakstudie reeds in Oktober verlede jaar aan dié konsultasiefirma voorgelê. In sy terugvoer het AfriForum verskeie kommerwekkende kwessies met betrekking tot die aansoek en die nakoming van relevante wetgewing en riglyne uitgelig. Tot op hede het Kimopax egter nog nie terugvoer gegee op AfriForum se bekommernisse oor Tenbosch Mining se wanvoorstelling nie. AfriForum eis daarom nou dat ’n skriftelike verduideliking gelewer moet word oor waarom die genoemde aansoek steeds voortgesit word.

Tenbosch Mining beoog om ’n steenkoolmyn aan die suidelike grens van die Nasionale Krugerwildtuin op te rig.

In die brief aan die Kimopax Group wys AfriForum onder meer op ’n kritieke kennisgewing van Tenbosch Mining se vorige omgewingskonsultasiefirma, Myezo Environmental Management Services. Volgens hierdie kennisgewing, gedateer 19 Oktober 2022, het Tenbosch Mining sy aansoek om ’n mynlisensie en omgewingsgoedkeuring onttrek. AfriForum benadruk dat dié kennisgewing betrekking het op dieselfde mynregaansoek as dié waarvoor Tenbosch Mining nou ’n omgewingsimpakstudie laat onderneem het.

In die Myezo-kennisgewing is bevestig dat die aansoek om die mynreg én die omgewingsgoedkeuringsprosesse gekanselleer is en dat verdere werk deur die betrokke konsultasiefirma opgeskort is.

Benewens die skrywe aan Kimopax, het AfriForum ook verskeie ander relevante partye verwittig van die kommerwekkende verwikkelinge ten opsigte van Tenbosch Mining se aansoek.

“Volgens onbevestigde gerugte is daar reeds goedkeuring vir ’n mynregaansoek toegestaan, maar dié goedkeuring word egter nog geheim gehou. Hoe dit ook al sy, hier is vreemde verwikkelinge in hierdie proses. Uit dit wat ons reeds weet van Tenbosch Mining, is dit duidelik dat dié maatskappy nie vertrou kan word nie. Juis daarom kan mynregte nooit aan só ’n maatskappy toegestaan word nie. Hul aansoek en impakstudie is ook uiters gebrekkig en ’n verdere rede waarom dié proses geskrap moet word en eerder van nuuts af begin moet word,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake.

Soortgelyke plasings