|

Life Esidimeni-GDO: Suster vertel van man se grudood in Life Esidimeni-tragedie

Sandra de Villiers, die suster van Jaco Stols, een van die 144 slagoffers in die berugte Life Esidimeni-tragedie, het vandag (28 Februarie) tydens die formele geregtelike doodsondersoek (GDO) na die dood van verskeie pasiënte getuig dat Stols vir vier weke lank aanhoudend opgegooi het wat daartoe gelei het dat hy van honger en dors op die ouderdom van 51 gesterf het. Sy het ook getuig dat daar onverklaarbare merke aan sy liggaam was en dat verslae aandui dat hy hom saans aan die slaap gehuil het sonder dat sy versorgers dit by sy geliefdes aangemeld het.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid en Solidariteit Helpende Hand verteenwoordig De Villiers in hierdie GDO. Adv. Phyllis Vorster, aanklaer by die privaatvervolgingseenheid, is ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag aangestel om De Villiers by te staan.

Stols, ’n intellektueel gestremde man met die breinvermoë van ’n negejarige kind, se lyding gedurende die laaste paar weke van sy lewe is vandag in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria aangehoor. Die GDO-hof moet die volgende bepaal: Die identiteit van die oorledenes, die oorsaak en datum van dood en of die dood deur ’n handeling wat neerkom op ’n misdryf deur enige persoon veroorsaak is. De Villiers is die 14de persoon van belang wat geroep is om te getuig.

Sy het by tye emosioneel geraak toe sy getuig het oor hoe haar broer voor haar oë weggekwyn het sedert hy as deel van die Life Esidimeni-geldbesparingsplan op 9 Mei 2016 van die Cullinan Care and Rehabilitation Centre (CCRC) na die nuwe Siyabadinga-sentrum in Cullinan oorgeplaas is. Sy het vertel dat haar broer tydens ’n besoek só dors en honger was dat hy ’n literbottel koeldrank op een slag opgedrink het en dat hy sy kos so vinnig geëet het dat hy amper ook die servet ingesluk het. Die hof het gehoor hoe Siyabadinga egter op 8 Julie 2016 sy deure moes sluit omdat dit sonder die nodige permitte bedryf is. Stols is dus op 19 Julie 2016 teruggeplaas na CCRC.

Van toe af het De Villiers volgens haar getuienis waargeneem dat haar broer merke op sy liggaam het en het getuig dat Stols gesê het dat “hulle” hom seermaak. Hy het ook baie gehuil. De Villiers het al die voorvalle tevergeefs by die nodige gesagstrukture aangemeld met die hoop dat iets daaraan gedoen sou word.

Op 19 September 2016 het De Villiers weer haar broer besoek. “Hy het so baie gehuil en gesê ‘hulle’ maak hom seer. Hy het sieklik gelyk, en ek het toe besluit om hom na ’n privaat dokter in Rayton te neem,” het De Villiers getuig.

Dr. Deon Lombaard (wat ook môre in die GDO gaan getuig) het gevind dat Stols heel moontlik mishandel word en aan wanvoeding en dehidrasie ly. Dr. Lombaard het medisyne voorgeskryf met die opdrag dat CCRC hom in ’n hospitaal moet laat opneem as hy nie verbeter nie. Dit het egter, volgens De Villiers se getuienis, nooit gebeur nie. Ná nog besoeke, en op De Villiers se aandrang, is Stols uiteindelik op 26 September 2016 na die Mamelodi-hospitaal geneem toe hy skaars 39 kilogram geweeg het. Hy is egter net met ’n binneaarse drup behandel en teruggestuur na die sentrum, waar hy verder verswak het.

Op 3 Oktober 2016 het CCRC vir Stols weer in die Mamelodi-hospitaal laat opneem. Sy toestand het vinnig verswak, en hy is op 14 Oktober 2016 oorlede.

“Ons soek net geregtigheid. Ek het gevoel my broer is glad nie vir hulle belangrik nie, sy lewe maak nie saak nie en hy kan sommer maar net doodgaan. Hy is tog ook maar net ’n mens, maar hulle het hom soos ʼn hond behandel. Hy is ook moontlik seksueel mishandel,” het De Villiers getuig.

“Die staat en verskeie instellings het vir Stols en De Villiers, asook al die ander slagoffers gefaal. Dit is ’n skreiende skande dat weerlose mense na bewering aan die hand van hul versorgers moes sterf. Ons kan nie toelaat dat hulle daarmee wegkom nie en sal saam met AfriForum se privaatvervolgingseenheid werk om te verseker dat geregtigheid seëvier en dat hierdie families berusting kan vind,” sê René Roux, adjunk- uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand.

“Dit is reeds vyf jaar sedert die regering hierdie weerlose mense versaak het en De Villiers het vandag getuig dat nie die NVG of die Departement van Gesondheid al ooit met haar gekonsulteer het nie, ten spyte van die feit dat sy ’n strafsaak by die polisie gemaak het oor haar broer se dood. Dit blyk verder dat niemand bereid is om aanspreeklikheid te aanvaar vir die onmenslike wreedheid wat Stols en ander pasiënte moes verduur het nie. Nietemin, sal AfriForum se privaatvervolgingseenheid in samewerking met Solidariteit Helpende Hand voortgaan om aan hierdie GDO deel te neem om te verseker dat diegene wat hul pligte versaak het en uiteindelik die dood van sowat 144 mense veroorsaak het, verantwoordbaar gehou word,” sê Wico Swanepoel, prokureur by AfriForum.

Soortgelyke plasings