|

AFRIFORUM JEUG: US SE VOORGESTELDE TAALBELEID IS SLEGS LIPPETAAL

AfriForum Jeug het vandag, op Afrikaanse Taaldag, in ’n skrywe aan prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die Universiteit Stellenbosch, kommentaar gelewer oor die voorgestelde tweede weergawe van die US-taalbeleid.

Die studenteorganisasie eis onder andere dat beide Afrikaans en Engels ten volle as voorgraadse onderrigtaal gebruik word. Praktiese oplossings om hierdie model stabiel te bestuur word ook gegee. AfriForum Jeug is ook van mening dat indien die behoefte daar is, ’n addisionele taal vir onderrigdoeleindes ingestel kan word soos die Nama-, San en Khoi-tale. IsiXhosa is ook ’n moontlikheid wat ondersoek kan word indien die behoefte ontstaan. Kommentaar op die beleid se tekortkominge word ook in AfriForum Jeug se dokument gelewer.

“Die beleid is op so manier opgestel dat indien die US slegs twee vakke in Afrikaans aanbied, die US steeds volgens sy eie reëls hulself as meertalig kan beskryf,” sê Bernard Pieters, bestuurder van AfriForum Jeug. “Daar is geen praktiese oplossings, doelwitte of mikpunte in die US se taalbeleid nie, maar dit dien slegs as lippetaal vir diegene wat nie die dokument self lees nie.”

“Die herhaalde gebruik van die gebruik woord “funksioneel” voor sekere ondernemings en terme, is ’n duidelike aanduiding dat die US vir hulself ruimte los om enige vorm van Afrikaans uit te faseer sonder om hulle eie of die Departement van Hoër Onderwys se wette of reëls te oortree,” voeg Pieters by.

Indien jy meer wil weet of betrokke wil raak by AfriForum Jeug se tersiêre of dorpstrukture kan jy ’n e-pos stuur na jeug@afriforum.co.za, met jou kampus, dorp of stad se naam as onderwerp.

Soortgelyke plasings