Meyerville-treinbrug in Standerton word opgeknap


AfriForum se Standerton-tak het op 29 Julie 2017 die Meyerville-treinbrug in dié dorp opgeknap as deel van die tak se brugopknappingsprojek.
Tydens dié selfdoenprojek beplan die plaaslike tak om al die brûe in die dorp te verf, asook om sigbaarheid en padveiligheid te verbeter.
Die tak sal ook die Lekwa Plaaslike Munisipaliteit aanmaan oor die betonversperring op die treinbrug wat weens vibrasies van verbygaande treine skuif. Vroeër vanjaar het een van hierdie versperrings van die brug af op die pad geval.

“Ons moet minder afhanklik van die regering word en eerder selfonderhoudend wees. Om hierdie rede het AfriForum ’n tak in Standerton wat die gemeenskap bystaan in sake waar die munisipaliteit versuim om hul pligte na te kom,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se streekskoördineerder vir Mpumalanga-Wes.

“Die tak beplan om nog soortgelyke projekte aan te pak om te verseker dat ons dorp nie verval nie. Sodoende verbeter ons padveiligheid, asook die voorkoms van ons dorp,” sê Jaco Taljaard, voorsitter van AfriForum se Standerton-tak.

SMS “Brug” na 45340 om betrokke te raak (R1).

Soortgelyke plasings