|

Noordstreeksuitdunrondte van AfriForum se Dink of Sink-debatskompetisie lewer opwindende woordstryde op

Die noordstreeksuitdunrondte van AfriForum se Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie het Donderdag en Vrydag, 3 en 4 Augustus, uitnemende debatte opgelewer en gesorg vir naelbyt-eindstryde in beide die junior en senior kategorieë. Die Hoërskool Montana was andermaal die gasheerskool van die kompetisie wat deur AfriForum geborg word.

Vanjaar was die deelname van skole in hierdie streek só groot, dat die kompetisie oor twee dae moes plaasvind. Altesaam 96 junior en 108 senior leerders van 13 skole het deelgeneem. Dié skole is (in alfabetiese volgorde) Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria, Afrikaanse Hoër Seunskool, Hoërskool Eldoraigne, Hoërskool Ermelo, Helpmekaar-kollege, Hoërskool Menlopark, Hoërskool Montana, Hoërskool Nelspruit, Hoërskool Oos-Moot, Hoërskool Overvaal, Hoërskool Transvalia, Hoërskool Waterkloof en Hoërskool Zwartkop. Die finale debatte in hierdie streeksuitdun het Vrydagaand tydens ’n gala-geleentheid plaasgevind.

In die kategorie vir junior hoërskoolleerders het spanne van die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria (AHMP) en Helpmekaar-kollege in die eindrondte teen mekaar te staan gekom. Anja Botha, Dané van Graan en Carii van Rooyen van AHMP het as wenners uit die stryd getree met Reuwan Henning, Mienke Serfontein en Liney du Preez van Helpmekaar-kollege in die tweede plek.

In die senior kategorie was die wenners Wian van Rooyen, Ignus Ferreira en Naudé Lourens van die Afrikaanse Hoër Seunskool, met Taryn van den Bergh, Lara Pienaar en Lizé Henning van AHMP as naaswenners.

AfriForum is deur Alana Bailey, hoof van Kultuursake, en Nicolene Müller, projekkoördineerder van hierdie kompetisiereeks, verteenwoordig. Hulle het hulle dank teenoor al die deelnemers, beoordelaars en veral die gasheerskool oorgedra vir hulle insette wat verseker dat die kompetisie jaarliks groei en nuwe hoogtes bereik.

Volgens Bailey bied die kompetisie aan al meer leerders die geleentheid om hulle debatsvernuf op te skerp. “Dit is AfriForum se doel dat jongmense toegerus moet word met ervaring om op hulle voete te kan dink, ten einde hulle op toekomstige studies en loopbane voor te berei,” voeg sy by.

Müller sê dat dit wonderlik is om te sien hoe opgewonde die leerders is om aan die debatte deel te neem en hierdie vaardigheid reeds op skoolvlak in te oefen. “Hulle moet leer om ’n eie standpunt te kan inneem en motiveer, asook om onvoorbereid te kan debatteer oor aktuele sake in die land,” meen sy.

Hierdie was die derde uitdunrondte in die jaarlikse kompetisie, waarna nog twee verdere uitdunrondtes sal volg. Die finaal om die nasionale wenspanne te kroon, sal op 7 Oktober 2023 in Centurion plaasvind.

Soortgelyke plasings