| |

Potchefstroom-tak neem dorp onder hande

AfriForum se Potchefstroom-tak het die dorp in Julie behoorlik onder hande geneem. Op Vrydag 28 Julie het Piet Theron, die tak se omgewingsbeampte, en ’n span helpers die rietbosse in die Trimpark by Buskuslaan getakel. Die span het bestaan uit lede van Green Thorn Environmental Solutions, Green Living Spaces en inwoners van Huis Hebron.

Behalwe dat riete geneig is om ander plante te verdring, bied dit ook skuilplek vir sluipslapers wat ’n veiligheidsrisiko vir die omliggende areas inhou. Die span het hard gewerk om twee groot rietbosse te verwyder en was teen 14:00 die middag klaar.

Die tak bedank al die instansies wat by hierdie projek betrokke was, asook ALS Group wat ’n vrag gruis geskenk en dit die vorige dag ingery het om die area tot by die riete vir die span toeganklik te maak.

Dirk Venter, wat oraloor bekend is vir sy kennis oor die opvul van slaggate, vul elke maand slaggate reg oor die dorp. In Julie het hy in Albert Luthuli- en Govan Mbekistraat 65 sakke teer gebruik om 16 m² slaggate te vul.

Die Potchefstroom-buurtwag het op 14 Julie deelgeneem aan die nasionale patrollie, ’n inisiatief waar al AfriForum se buurtwagte reg oor die land op dieselfde tyd patrollie ry. Wat egter meer merkwaardig is, is dat die 191 aktiewe patrolleerders elke nag van die week getrou patrollie ry. AfriForum se buurtwagte help om misdade snags te verminder, veral tydens beurtkrag wanneer kabeldiefstal hoogty vier. Verskeie arrestasies is al gemaak, maar die sindikaat ontwyk steeds die gereg.

Benewens al hierdie aksies is die voorsitter van die Potchefstroom-tak, Douglas Bourn, voortdurend in kontak met die JB Marks Plaaslike Munisipaliteit. Bourn is tans besig om die portefeulje vir plaaslike regering uit te bou sodat dié munisipaliteit tot verantwoording geroep kan word vir die verval van die dorp.

““Ek is baie trots op hierdie tak en dit wat die buurtwag vermag. ’n Mens kan reeds ’n groot verskil sien, maar ons het elke inwoner van Potchefstroom nodig om aktief betrokke te raak. Daarom daag ons ondernemings en die inwoners uit om ’n donasie te maak sodat meer slaggate opgevul kan word. Saam is ons sterker,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.

Soortgelyke plasings