|

Sasolburg-tak sit skouer aan die wiel in Maart

AfriForum se Sasolburg-tak het die afgelope maand onverpoosd gewerk om gras te sny en die dorp netjies te maak. Daar is ongeveer 25 hektaar gras gedurende Maart in verskeie areas gesny. Die Hoëveldse Tuine is ook na aanloop tot die tak se Paasmark skoongemaak. Verder is daar ook met die bestuur van die Metsimaholo-munisipaliteit vergader rakende die gebrekkige dienslewering in Sasolburg.

Op Saterdag 25 Maart het die tak hulle maandelikse mark in die Hoëveldse Tuine gehou en afgesien van die reën was die mark weereens ’n reusesukses. Benewens al die interessante stalletjies, het Yolandi en Will van Niekerk die markgangers vermaak terwyl die Paaseier-skattejag onder almal ’n treffer was. Beplanning om by die volgende mark ’n sangkompetisie te hou, word ook bespreek – hou ons Facebook-blad dop vir verdere inligting.

AfriForum se Sasolburg-buurtwag het in Maart ook verskeie operasies geloods en ’n afstand van ongeveer 2074 km afgelê. ’n Operasionele kamer met die nodige toerusting is ook op die been gebring en die herhaler (versterker) is nagegaan om te verseker dat daar behoorlike kommunikasie tussen Sasolburg en Vaalpark is. 

In samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het die buurtwag op 4 Maart, gedurende die geskeduleerde kragonderbreking, substasies en groenstroke gepatrolleer en beveilig aangesien misdaad tydens hierdie tye hoogty vier.

Die buurtwag het op verskeie oproepe vanuit die gemeenskap gereageer, twee daarvan was inbrake by substasies waar koperkabels gesteel is. Verskeie veiligheidsinstansies, buurtwagte en die plaaslike polisie was Sondag en Maandag met die #NationalShutdown van die EFF op hoë gereedheidsvlak. Gedurende dié tyd is 1590 km deur die patrolleerders van die buurtwag afgelê.

Twee van die bestuurslede van die buurtwag wat by die operasie betrokke was het opleiding in Orania ontvang om te verseker dat buurtwaglede binne die raamwerk van die wet optree. 

“Inisiatiewe om Sasolburg weer skoon en netjiese te maak word reeds vir die jaar beplan en ons is tans besig met herstelwerk aan die dammetjie in die Hoëveldse Tuine. Ek nooi die publiek uit om die mark te kom bywoon en sien wat al vermag is. Dié mark word op die laaste Saterdag van elke maand gehou. Ons wil graag ons lede bedank vir hul bereidwilligheid om eienaarskap van areas in hulle omgewing te vat. Selfdoen is nie verniet ons leuse nie,” sê Johan Cooks, voorsitter van die Sasolburg-tak

“Die takbestuur se entoesiasme is aansteeklik en mense besef dat ons moet hande vat en self beheer neem. Die maandelikse mark in die Hoëveldse Tuine is ’n groot trekpleister in Sasolburg, en dit is wonderlik dat die park weer vir die gemeenskap toeganklik is. Verder laat die buurtwag se paraatheid die gemeenskap weer veilig voel en sorg vir gemoedsrus,” sê Alta Pretorius, distrikskoördineerder vir Mooirivier.

Die gemeenskap word aangemoedig om by dié tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: SMS “Sasolburg” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings