|

Rustenburg-tak gaan voort met volhoubare skoonmaakprojek

Die AfriForum-tak in Rustenburg het gedurende Maart nie geskroom om hul hande vuil te maak om die algehele netheid van die dorp te verbeter nie. Altesaam drie hektaar gras is gesny en 40 vragte vullis is die afgelope maand in verskillende areas van die dorp weggery. Daar was gefokus op Dawesstraat, Mcgeregorstraat, Kerkstraat, Arendweg en Sparrow laan.

“Die nodige onderhoud van openbare ruimtes word nie deur die munisipaliteit in Rustenburg gedoen nie. Sypaadjies en parke is geweldig oorgroei met plante en vol rommel wat gesondheids- en veiliheidsrisiko’s inhou. Baie van die oop areas word gebruik om onwettig vullis te stort en die bebosde areas dien as skuilplek vir misdadigers. Dit is belangrik dat gemeenskappe saam staan en self verantwoordelikheid neem van die netheid van hulle dorpe,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

“Dit is vir AfriForum belangrik om die gemeenskap by te staan daar waar die munisipaliteit misluk. Ons sal voortgaan om die gemeenskap te ondersteun en volhoubare projekte te identifiseer om sodoende ’n beter omgewing te skep. Ons is dankbaar vir die ondersteuning wat ons ontvang vanaf lede van die publiek sowel as sakeondernemings en ons vra dat mense ons sal ondersteun waar moontlik. Dit is ons AfriForum-lede se finansiële bydraes wat hierdie projek moontlik maak,” sê Chris Trytsman, voorsitter van AfriForum se Rustenburg-tak.

Word vandag nog deel van AfriForum se Rustenburg-tak: SMS “Rustenburg” na 45344 (R1) of skakel vir Chris Trytsman by 082 469 2221.

Soortgelyke plasings