|

SANRAL rig nuwe heining op langs N1 in Worcester ná AfriForum ingryp

AfriForum se gesprekke met die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (SANRAL) het vrugte afgewerp nadat dié agentskap eindelik in Junie vanjaar ’n nuwe draadheining langs die N1 gespan het. Boewe het intussen egter reeds telkemale toegeslaan en die pale van die nuwe heining gesteel.

Die burgerregteorganisasie se Worcester-tak het vroeër vanjaar die Breedevallei-munisipaliteit genader om die beskadigde heining by die oop veld langs die N1, wat grens aan Meiringspark, te laat herstel. Die tak is egter na SANRAL verwys waarna samesprekings oor die moontlikheid van ’n nuwe heining gevolg het.

Dit is baie belangrik dat hierdie spesifieke heining in stand gehou word omdat heelwat misdadigers Meiringspark deur die oop veld betree en kriminele aktiwiteite in dié woonbuurt uitvoer. Redelik onlangs was daar ’n skerp toename in huisbrake en voorvalle van diefstal van fietse en motorfietse. Skaars ’n maand nadat die nuwe heining opgerig is, het misdadigers begin om die pale van dié heining te steel wat dit basies nutteloos laat, omdat enigiemand toegang tot die veld het. Misdadigers gebruik ook dié veld as ontsnappingsroete. AfriForum se Worcester-buurtwag was al vantevore op die toneel waar drie verdagtes die perseel betree het en besig was om die pale te steel. Addisionele ondersteuning het binne minute opgedaag en die verdagtes is gearresteer en aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) oorhandig. Dié verdagtes word tans vervolg.

“Die AfriForum-buurtwag patrolleer gereeld die veld en dit wat nog oor is van die heining. Sonder die deurlopende patrollering en spoedige reaksie van die Worcester-buurtwag, sou talle huishoudings onder misdaad deurgeloop het,” sê Jacques Benade, AfriForum se distrikskoördineerder van die Boland.

Lede van die gemeenskap word aangemoedig om by AfriForum se Worcester-tak en buurtwag betrokke te raak. Kontak Jolize van der Merwe, voorsitter van AfriForum se Worcester-tak, by 082 892 9023 of besoek www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings