|

SAPD en SANW span blykbaar saam om twee weermaggeneraals teen vervolging op klagtes van moord te beskerm

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het die polisie gevra om te verduidelik waarom twee van die land se mees senior weermaggeneraals nie gearresteer en aangekla is nie, ondanks ’n uitdruklike opdrag van ’n aanklaer om dit te doen. Dit is ’n blatante geval van selektiewe vervolging wat ten doel het om verdagtes binne die hoogste vlak van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) te beskerm – optrede wat die eenheid nie onbetwis sal laat nie.

Die saak behels twee mans, Sibusiso Phetla (39) en Jerome Lebaka (41),  wat op 13 Februarie vanjaar ontvoer en vermoedelik in opdrag van SANW-generaals vermoor is. Die twee verdagtes is deur ’n ooggetuie geïdentifiseer en direk met die saak verbind, maar hulle is om onverklaarbare redes nie in hegtenis geneem nie.

Op Maandag 29 Augustus het die soldate Sinovuyo Botha, Aviwe Dosi en Sindile Ncomelo in die Pretoria Landdroshof verskyn op klagtes van die ontvoering en aanranding van Phetla en Lebaka. Die saak is tot 19 September uitgestel vir die blootlegging van die dossier aan die beskuldigde.

Die aanklaer het die hof meegedeel dat die spesifieke opdragte aan die ondersoekbeampte gegee is dat hy waarskuwingsverklarings van die twee generaals moet bekom en dat hulle gearresteer en as beskuldigdes in die saak gevoeg moet word. Hierdie instruksies is egter geïgnoreer. Die aanklaer het die hof verder ingelig dat die SANW nie saamwerk in die ondersoek nie. Daar word verneem dat die toneel in Magasynstraat in Salvokop, waar die misdaad glo plaasgevind het, nie deur polisieondersoekers besoek is nie.

Adv. Gerrie Nel, hoof van Afriforum se privaatvervolgingseenheid, het ’n formele klag by die SAPD ingedien. “Tot op hede is nie een van die twee generaals in hegtenis geneem en voor die hof gebring om as beskuldigdes te verskyn nie. Die ondersoeker het ook nie aan talle opdragte van die aanklaer gehoor gegee nie. ’n Ruim vertolking van die situasie is dat die ondersoeker nie daarin belangstel of nie in staat is om sy pligte uit te voer en om eenvoudige instruksies van die aanklaer na te kom nie. ’n Verdere onafwendbare afleiding is egter dat daar ’n geheul tussen die SAPD en die SANW is om die twee generaals van strafregtelike vervolging te beskerm,” sê Nel.

Agtergrond

Phetla se ma, Mirriam Phetla, het AfriForum se privaatvervolgingseenheid om hulp genader toe die generaals nie as beskuldigdes gevoeg is nie, en dit het geblyk dat die drie beskuldigdes as sondebokke gebruik word om die grootkoppe teen vervolging te beskerm.

Mirriam het in haar klagte aan die eenheid gesê dat sy genader is deur ’n man, wat nou ’n staatsgetuie is, wat die oomblikke wat gelei het tot haar seun en sy vriend se verdwyning aan haar beskryf het. Sy sê daar is aan haar vertel hoe haar seun en twee ander verdwaal het en in Salvokop beland het, waar hulle deur verskeie soldate genader is, waaronder twee generaals wat glo in die gebied woon. Mirriam beweer dat skote afgevuur en haar seun en Lebaka daarna aangerand is, na bewering in opdrag van die generaals.

Mirriam sê die getuie het daarin geslaag om die gebied te verlaat, maar sonder haar seun en die ander man. Dit was die laaste keer dat hulle lewend gesien is.

Pleidooi

Nel het in sy brief aan die SAPD die polisiebestuur versoek om vinnig op te tree voordat partye wat by ’n baie ernstige misdaad betrek word, skotvry daarvan afkom. “Die ondersoek is duidelik onvolledig weens die voormelde optrede van die ondersoekbeampte. Hierdie twyfelagtige optrede van die ondersoekbeampte het die aanklaer genoop om die saak tot 19 September 2022 uit te stel vir blootlegging, ondanks die uitstaande ondersoek van twee generaals van die SANW. Ons vertrou dat u sal saamstem dat ons kliënt se belange vertrap word deur die blatante verontagsaming van werksetiek deur die ondersoekbeampte en sy hoof. Daarom versoek ons, met respek, u bystand om te verseker dat die saak spoedig en bekwaam hanteer word,” het Nel geskryf.

Soortgelyke plasings