Stop Beoogde vuurwapenwet!

Volgens ’n beoogde konsepwysigingswet sal geen persoon voortaan meer ’n vuurwapen mag koop/besit vir selfverdediging nie.

Burgers moet oor die vermoë beskik om hulself en hulle gesinne, binne die raamwerk van die wet, teen misdadigers te beskerm. Hierdie konsepwysiging, in sy huidige formaat, sal tot gevolg hê dat burgers weerloos gelaat word in ’n land waar die Suid-Afrikaanse Polisiediens reeds ruiterlik erken het dat hulle nie oor die vermoë beskik om die burgers van die land teen ’n misdaadvlaag te kan verskans nie.

Die voorgestelde wysigings is irrasioneel en roekeloos veral aangesien dié konsep die vermoë van burgers ontneem om ’n vuurwapen vir selfverdedigingsdoeleindes te besit. Verder blyk dit ook dat sportskuts, jagters en vuurwapenhandelaars aan die kortste ent gaan trek met die voorgestelde wysigings

AfriForum het reeds sy kommentaar oor die wetsontwerp by die parlement ingedien.

Hoe raak die voorgestelde wysigings jou?

  1. Jy sal nie selfverdediging meer as rede kan aanvoer om ’n vuurwapen te besit nie.
  2. Jag- en sportvuurwapens sal beperk word, selfs al het jy toegewyde status. Slegs ses vuurwapens sal toegelaat word as jy toegewyde status het en steeds slegs vier as jy dit nie het nie. Die samestelling van dié ses of vier vuurwapens sal ook beperk word. Jy sal byvoorbeeld nie meer as twee haelgewere en/of handwapens mag besit nie.
  3. Jy sal nie meer herlaaitoerusting mag besit nie.
  4. Geen vuurwapens sal sonder ’n spesiale permit vervoer mag word nie. Indien jy sou wou gaan jag of skietbaan toe wou gaan, sal jy ’n permit moet hê.
  5. Jy sal niemand jonger as van 16 jaar mag toelaat om jou vuurwapen onder jou direkte toesig te hanteer nie.
  6. Niemand sal meer as 100 rondtes ammunisie per vuurwapen in hul besit mag hê sonder ’n spesiale permit nie. Dit geld ook vir mense met toegewyde status.
  7. Dit sal moeilik wees om toegewyde status te verkry en/of in stand te hou.
  8. Privaat vuurwapenversamelings sal in geheel geskrap word en slegs openbare versamelaars sal erken word.
  9. Vuurwapenlisensies vir jag en/of sport wat tot dusver onbeperk was, sal nou elke vyf jaar hernu moet word.
  10. Voordat jy ’n vuurwapen na iemand sal kan oordra, sal dit eers vir ballistiese toetse ingehandig moet word.
  11. Mense wat in enige stadium ’n beskermingsbevel teen hulle gehad het, sal as onbevoeg verklaar word om vuurwapens te besit.
  12. Die minister sal baie wye magte hê om die invoer van vuurwapens en ammunisie te beperk.
  13. Voornemende sportskutte, toegewyde jagters en professionele jagters sal vir bevoegdheidsertifikate moet aansoek doen om dié status te bekom en/of te behou. Voorts sal daar strenger na die doen en late van persone gekyk word om te verseker dat hulle vir dié status kwalifiseer.
  14. Semi-outomatiese gewere en haelgewere sal onder die definisie van beperkte vuurwapens ingesluit word. Dit sal aansienlik strenger gereguleer word en sal net in uitsonderlike omstandighede besit mag word. Die registrateur sal die bevoegdheid hê om ammunisie wat hy/sy as verbode ammunisie ag só te verklaar, wat beteken dat dié ammunisie glad nie aangekoop of vervaardig sal mag word nie.
  15. Bevoegdheidsertifikate en lisensies sal aan mense jonger as 21 jaar, maar ouer as 18 jaar uitgereik kan word as dié mense goeie redes kan verskaf waarom hulle daarvoor kwalifiseer. Voorbeelde van dié redes is as hulle dit nodig sou hê vir hul sakeonderneming of die status van ’n toegewyde jagter of sportskut wil hê.
  16. Daar word beoog om ’n raadgewende forum in die lewe te roep wat onder andere sal bestaan uit die hoof van die sentrale vuurwapenregister (SVR) en senior personeel van die Reguleringsgesag vir die Privaat Sekuriteitsbedryf (PSiRA).

Soortgelyke plasings