|

Twee opgeleide honde deel van AfriForum se Fochville-buurtwag

Die AfriForum-buurtwag in Fochville het op 13 November 2021 twee opgeleide honde by die buurtwagspan verwelkom. Duke (2) en Haylie (3) was deel van Gladiators se sekuriteitseenheid en is aan die buurtwag geskenk. Duke is ’n opgeleide aanvalshond en Haylie is ’n opgeleide spoorsnyhond.

Volgens Eugene Potgieter, eienaar van Gladiators, het hulle nie meer die honde gebruik nie en het besluit om die honde vir ’n organisasie te skenk wat hulle wel sal benut en mooi versorg. Twee gekwalifiseerde opleiers het hulp aangebied met die honde se verdere opleiding en aanpassing by AfriForum.

Volgens Jaco van der Merwe, voorsitter van AfriForum se Fochville-tak, is hulle baie dankbaar vir die twee honde en hulle glo die honde sal ’n groot impak op die buurtwag se kapasiteit hê. Dit sal ook help met die algehele veiligheid in Fochville veral ook wanneer hulle met die twee honde die SAPD help.

“Dit is ’n groot voorreg om Duke en Haylie by die buurtwag te hê en ons voel geëerd dat Gladiators AfriForum genader het om die twee honde in te neem en deel te maak van die buurtwag. Dit gaan ook ’n groot hupstoot vir die buurtwag wees. Ons wil graag vir Gladiators bedank vir hul onbaatsugtige skenking,” sê Stephanus Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand.

Soortgelyke plasings