|

Vanderbijlpark-buurtwag blus twee brande in een aand

AfriForum se Vanderbijlpark-buurtwag het die aand van 5 Augustus twee brande ná mekaar geblus. Hendrik Small, leier van die Vanderbijlpark-buurtwag, het skuins ná 18:00 ’n oproep van ’n brand by die Hoërskool Vanderbijlpark ontvang en gaan ondersoek instel.

Kort daarna het die res van die buurtwag opgedaag met die tak se vuurvegter. Die brand was agter geboue aan die kant van die skool waar ’n hoop gras en blare gelê het. Dit het hulle omtrent ’n uur geneem om die brand te blus.

Die brand by die skool was nog nie eers geblus nie toe die buurtwag bewus geword het van nog ’n brand. Hierdie brand was langsaan by die sportgronde tussen die skool en die Centurion Motorfietsklub se klubhuis. Dit het hulle ook sowat ’n uur geneem om hierdie brand te blus.

Stephanus (Butch) Blignault, AfriForum se distrikskoödineerder vir die Wes-Rand, wil elke patrolleerder bedank vir sy tyd en energie wat hulle insit om ’n verskil in hul gemeenskap te maak. “Sonder hierdie groepie mense sou dinge baie slegter gewees het in Vanderbijlpark aangesien die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit glad nie hul verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap nakom nie.”

Diegene wat by die Vanderbijlpark-tak wil aansluit, kan ’n e-pos stuur na vanderbijlpark@afriforumtak.co.za.

Soortgelyke plasings