|

Veiligheidstekortkominge by SANW-ammunisiedepot stel gemeenskap in gevaar

AfriForum eis dringende optrede van Motshekga

AfriForum het alarm gemaak oor ernstige veiligheidstekortkominge by die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) -ammunisiedepot buite Jan Kempdorp in die Noord-Kaap. Die organisasie eis nou dat Angie Motshekga, die minister van Verdediging en Militêre Veterane, verskeie vrae oor die veiligheid van die depot en die ammunisie wat daar gestoor word beantwoord.

Die organisasie het inligting ontvang oor onder meer die bedenklike toestand van die veiligheidsheining rondom die depot asook die heining om die hoë-sekuriteitsarea binne die depot, spreiligte wat buite werking is en oortreders wat gemaklik oor die afgelope maande toegang tot die gebied kon verkry. Die veiligheidsheinings is plek-plek heeltemal vervalle wat dit veral makliker maak vir ongemagtigde individue om toegang tot die hoë-sekuriteitsgebied te verkry en die spreiligte wat nie werk nie maak die perseel veral kwesbaar in die aande.

AfriForum versoek onder meer in ’n skrywe aan Motshekga antwoorde oor onder meer:

  • Wat die huidige toestand van die veiligheidsheining is en of daar stappe gedoen word om dit te herstel.
  • Of die spreiligte in ’n werkende toestand is en indien dit nie is nie wanneer dit herstel gaan word.
  • Of die voorvalle van betreding ondersoek is en watter maatreëls in plek gesit gaan word om verdere betredings te voorkom.
  • Of daar permanente wagte is wat die depot patrolleer en of hulle toegerus is om op veiligheidsbedreigings te reageer.
  • Of die weermag se brandweerdiens gereed is om te reageer op enige noodgevalle by die depot.
  • Watter ammunisie en hoeveel daarvan word by die depot gestoor en of dit in ’n veilige toestand is.

Die omliggende gemeenskap het ook hul kommer uitgespreek oor die potensiële risiko’s wat die depot se swak sekuriteit vir die gemeenskap in geheel inhou. AfriForum glo dat ’n militêre fasiliteit wat van strategiese belang is, soos dié een, met die hoogste vlak van sekuriteit beveilig moet word en die organisasie eis nou onmiddellike optrede van Motshekga.

“Dit blyk of enigeen sommer net toegang tot hierdie perseel kan verkry. Dít is ’n reuseprobleem veral as ons in ag neem dat dit onlangs aan die lig gekom het dat buitelandse militêre groepe in Suid-Afrika teenwoordig is. Ons weermagbasisse en veral ons ammunisiedepots móét  beter beveilig word,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

“Die gemeenskap verdien antwoorde, en nog belangriker, hulle verdien optrede. Ons kan nie bekostig om te wag totdat ’n voorval plaasvind nie. Die tyd om op te tree is nou.”

AfriForum doen ’n beroep op die Departement van Verdediging om vinnig op te tree en toepaslike maatreëls in te stel soos om die veiligheidsheining en spreiligte te herstel, wagte wat patrolleer behoorlik op te lei en te bevestig of die ammunisie by die depot veilig gestoor word. Hierdie stappe is uiters belangrik ten einde die veiligheid by die depot en die veiligheid van die omliggende gemeenskap te verseker.

Soortgelyke plasings