|

Viljoenskroon seRammulotsi-ingang skoongemaak om Nampo-gangers te verwelkom

Een van die mees gebruikte ingange na Viljoenskroon is die afgelope naweek (9 Mei) deur dié AfriForum-tak skoongemaak ter voorbereiding vir die duisende besoekers wat deur die dorp ry vir die Nampo-landbouskou in Bothaville.

Die tak het ingespring en met behulp van nagenoeg 30 mense die veld by Rammulotsi weer netjies gemaak. Die inwoners van Viljoenskroon het die tak bygestaan deur werkers vir die dag aan te stel, asook ’n trekker en sleepwa beskikbaar te stel om tuinvullis mee weg te ry. Altesaam 80 sakke vullis is bymekaar gemaak en drie vragte vol takke is afgesny en weggery.

Alta Pretorius, AfriForum se streekskoördineerder vir die Mooirivier-streek, sê dit is nie net belangrik om hierdie ingang skoon te maak vir die besoekers wat deur die dorp gaan nie, maar ook vir die inwoners wat daagliks hiér verby ry.

“Die inwoners van Viljoenskroon is trots op hulle dorp, en die AfriForum-tak beaam dit. Die getemde velde is ’n klein manier om besoekers en verbygangers welkom te laat voel,” sê Pretorius. “Ons hoop dat die inwoners wat nog nie by die Viljoenskroon-tak betrokke is nie, die verskil sien wat in die dorp gemaak word en vandag nog betrokke raak.”

Diegene wat by die Viljoenskroon-tak wil aansluit, kan Attie Barnard (waarnemende voorsitter van die tak) kontak by 082 557 1428.

Soortgelyke plasings