|

Voormalige vroedvrou gaan uiteindelik vervolg word ná volgehoue druk deur privaatvervolgingseenheid

Yolande Maritz, ’n gederegistreerde verpleegster, sal uiteindelik vervolg word ná sy na bewering medikasie aan verskeie swanger vroue toegedien het wat vermoedelik gelei het tot komplikasies tydens geboorte. AfriForum se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig Carien Möller en Alysia von Kloëg in hierdie saak. Die privaatvervolgingseenheid het deurlopend druk op die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) geplaas om die saak ter rolle te plaas. Maritz, ’n vroedvrou, is uiteindelik gedagvaar om op 24 Julie vanjaar op klagtes van aanranding in die hof te verskyn.

“Vir ’n jaar en ’n half lank het die privaatvervolgingseenheid hulself daaraan toegewy om vir Carien en Alysia te ondersteun in hul soeke na geregtigheid en om te verseker dat Maritz aanspreeklik gehou word vir haar aksies,” sê Barry Bateman, woordvoerder vir die privaatvervolgingseenheid.

Möller en Von Kloëg het onderskeidelik in 2020 en 2022 kriminele klagtes teen Maritz ingedien ná komplikasies tydens geboorte, onder Maritz se toesig as vroedvrou. Hierdie komplikasies het gelei tot die dood van Von Kloëg se baba seuntjie nege dae ná sy geboorte en het Möller se dogter met ’n serebrale gestremdheid gelaat. Maritz is in 2021 deur die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging skuldig bevind aan nalatige en onprofessionele gedrag en permanent gederegistreer as vroedvrou. Sy het teen die bevinding appelleer maar dit is van die hand gewys.

Die privaatvervolgingseenheid het in Januarie 2023 in gesprek getree met die NVG ná Möller en Von Kloëg hul kommer uitgespreek het oor die stadige vordering met die saak en die NVG se gebrek aan kommunikasie.

“Die privaatvervolgingseenheid is verlig dat die saak nou op die rol geplaas is, maar dit moes nie so lank gevat het nie. In Februarie vanjaar, toe die saak steeds nie op die rol geplaas is nie, het die privaatvervolgingseenheid die NVG ingelig dat hulle versuim om Maritz te vervolg vir haar die geleentheid gegee het om voort te gaan met haar aktiwiteite en dat sy dalk nóg skade aan swanger vroue kan aanrig,” sluit Bateman af.

Soortgelyke plasings