|

AfriForum se Apiesrivier-buurtwag trek kabeldiewe vas

AfriForum se Apiesrivier-buurtwag het die afgelope naweek twee arrestasies gemaak van vermeende kabeldiewe.

Die buurtwag het die arrestasie gemaak nadat Theuns Vogel en Nico Brits, twee boere van die omgewing, die buurtwag geskakel het vir hulp, die buurtwag het onmiddellik reageer. Die gereedskap wat gebruik word om kabels te steel is gevind saam met die omhulsels van kabels wat reeds skoongemaak is.

“Dit is ’n groot sukses vir  AfriForum se Apiesrivier-buurtwag asook die hele Apiesrivier gemeenskap. Ons bedank elke AfriForum- en buurtwag-lid vir hulle onbaatsugtige bydrae en tyd wat opgeoffer word om hierdie gemeenskap te beveilig,” sê Sampie Steinberg AfriForum se distrikskoördineerder vir die groter Pretoria-Noord. 

Die Tshwane Metro Polisie se kabeldiefstaleenheid is gekontak en was vinnig op toneel gewees en het die twee verdagtes vir ondervraging geneem.

“As gevolg van die twee boere se vinnige optrede om AfriForum se Apiesrivier-buurtwag te skakel kon die verdagtes suksesvol arresteer word. Daar is tans vyf persone wat betrokke is by kabeldiefstal in die omgewing waarvan twee nou gearresteer is. Dit is belangrik dat die gemeenskapslede inskakel by hul plaaslike AfriForum-buurtwag,” sê Craig Brown, ondervoorsitter van AfriForum se Apiesrivier-tak.

“Kabeldiefstal veroorsaak dat gemeenskap se infrastruktuur tot niet gaan en dit is ’n groot finansiële verlies vir die Stadsraad van Tshwane en die belastingbetalers. Deur saam te werk in ’n gemeenskap en met die plaaslike owerhede kan die misdaad hok geslaan word,” sluit Llewellynn Hemmens noordstreekshoof vir gemeenskapsveiligheid af.

Sluit gerus aan met ’n vrywillige maandelikse bydrae of SMS “Apiesrivier” na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings