|

AfriForum sê SAUK moet ’n vaste tyd vir Afrikaanse TV-nuus op SABC2 verseker

AfriForum eis in ’n skrywe aan die voorsitter, uitvoerende hoof en bestuur van die SAUK dat Afrikaanse nuusbulletins terug verskuif sal word na SABC2 en daagliks deurgaans op dieselfde tyd uitgesaai word sonder dat dit met sport of ander geleenthede vervang word. Dít volg ná ’n aankondiging dat nuusbulletins voortaan Saterdae en Sondae om 18:15 op SABC2 uitgesaai sal word, maar weeksaande steeds op SABC3 in die 20:30-tydgleuf sal bly.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is dit onaanvaarbaar dat Afrikaanse kykers én adverteerders moet rondsoek tussen kanale en tydgleuwe om te kan nuus kyk, en dan nie eens die waarborg het dat die bulletin wel sal voortgaan as daar ’n wedstryd of ander program is wat die kanaalbestuur daardie aand belangriker ag nie.

“Afrikaanse verbruikers is lojaal en kapitaalkragtig. Sowat ’n derde van die mark is Afrikaans. Dit maak dit nog meer onverstaanbaar dat die SAUK kies om hierdie mark te vervreem terwyl die openbare uitsaaier diep in die finansiële verknorsing verkeer. Dit kies spreekwoordelik om ’n gans te slag wat goue eiers lê!”

AfriForum is uiters bekommerd oor die rol wat die openbare uitsaaier speel. Nie net Afrikaanssprekendes nie, maar ook die sprekers van ander, kleiner taalgroepe in die land kla lankal oor nuusbulletins op ongerieflike tye en die finale afskakeling van analoogseintorings.

Die afgelope jare is die SAUK só aan politieke speletjies en swak bestuur uitgelewer, dat die eens kragtige organisasie wat alle gemeenskappe in die land bedien het, al minder mense bereik.

“Sinvolle programskedules, bekwame bestuur, respek vir alle taalgroepe in die land en die koestering van die publiek se belange moet vir ’n verandering weer bo-aan die SAUK se prioriteitslys staan. Die manier waarop die uitsaaier Afrikaanse nuusbulletins gaan hanteer, sal ’n belangrike aanduiding wees of dit wel in die toekoms die geval sal wees,” meen Bailey.

Soortgelyke plasings