|

AfriForum bekommerd oor ‘verkeerde’ vuurwapens wat moontlik vernietig kan word

AfriForum is bekommerd dat vuurwapens wat tydens die amnestietydperk ingehandig is vir bewaring terwyl eienaars weer aansoek doen om hul lisensies, moontlik verkeerdelik vernietig kan word. Vuurwapeneienaars wat van die amnestietydperk gebruik maak om heraansoeke in te dien, word gemaan om seker te maak dat hul vuurwapens nie deel is van die lys van vuurwapens wat vernietig word nie.

Dit volg nadat genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, in ’n kennisgewing in die Staatskoerant van 13 Mei 2020 bevestig het dat wapens, ammunisie en wapenonderdele wat vrywillig ingehandig is of wat aan die staat verbeur verklaar is, vernietig sal word. Volgens die SAPD se webwerf sal die vernietiging van dié vuurwapens, ammunisie en onderdele op 25 Junie 2020 plaasvind.

Ingevolge die vuurwapenamnestietydperk wat tot 31 Mei 2020 van krag is, kan vuurwapeneienaars hul vuurwapens by hul naaste polisiekantoor inhandig indien hulle van die vuurwapens ontslae wil raak. Dit sluit ongelisensieerde vuurwapens in en die eienaar van die wapen sal nie vervolg word omdat hy ’n ongelisensieerde wapen in sy besit het nie. Eienaars wat van die amnestieproses gebruik maak, kan ook binne 14 dae nadat die wapen ingehandig is van voor af aansoek doen vir ’n lisensie. Die wapen word dan by die SAPD gehou terwyl die aansoek oorweeg word. Indien die aansoek suksesvol is, kan die eienaar weer die wapen gaan afhaal.

Vuurwapeneienaars wat hierdeur geraak word, word versoek om https://www.saps.gov.za/resourcecentre/notices/notices.php te besoek om seker te maak die wapens waarvoor hulle aansoek doen, is nie ingesluit by die lys van wapens wat vernietig word nie. Indien ’n vuurwapen verkeerdelik op die lys verskyn, moet die voornemende eienaar binne 21 dae (bereken vanaf 13 Mei 2020) ’n e-pos stuur aan XabaSl@saps.gov.za, en die SAPD daarvan inlig.

“Dit is ’n reusebeslommernis om, veral in dié tyd, aansoek te doen vir ’n vuurwapenlisensie. Dit sal ’n hartseer dag wees as ’n persoon aansoek doen vir ’n vuurwapen, die fooie betaal en die administrasie deurgaan om die lisensie te bekom, net om later uit te vind die vuurwapen is per abuis vernietig. Persone wat moontlik hierdeur geraak kan word, moet die SAPD self verantwoordelik hou vir die akkuraatheid van die lys. AfriForum hou die verloop van gebeure met belangstelling dop,” sê Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder vir gemeenskapsveiligheid.

Soortgelyke plasings