|

AfriForum-buurtwagte in noordstreek neem aan nasionale massapatrollie deel

AfriForum se buurtwagte in die noordstreek wat Gauteng, Limpopo en Mpumalanga insluit het op 14 en 15 Oktober aan AfriForum se nasionale massapatrollie deelgeneem. Die nasionale massapatrollie vind verskeie kere deur die loop van die jaar plaas. Dit is om proaktief teen misdaad in ons land op te tree en sigbaarheid op te skerp.

470 van AfriForum se buurtwag-lede in die noordstreek het deelgeneem waartydens 26 gebeurlikheidsplanne ingeoefen is en 111 insidente aangemeld is.

Sigbaarheid speel ’n deurslaggewende rol om misdaad te bekamp. Die AfriForum-buurtwagte lê daarom klem op verhoogde sigbaarheidsaksies in hul onderskeie gebiede. AfriForum se veiligheidspan wil graag die plaaslike SAPD, die GPF, verskeie sekuriteitsmaatskappye en AfriForum se noordstreek wat aan die massapatrollie deelgeneem het bedank vir die uitstekende samewerking en goeie koördinering tydens dié massapatrollie.

“Dit is belangrik dat ons die boodskap aan misdadigers oordra dat ons nie misdaad in ons woonbuurte sal duld nie,” sê Stephanus (Butch) Blignault, distrikskoördineerder vir die Wes-Rand.

“Hoë sigbaarheid, samewerking tussen verskillende rolspelers en inoefening van gebeurlikheidsplanne boesem hoop in ’n gemeenskap in. En ’n gemeenskap wat hoop het, is ’n sterk gemeenskap,” sê Llewellynn Hemmens, hoof van gemeenskapveiligheid vir die noordstreek.

Soortgelyke plasings