|

AfriForum dien hofstukke in om Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit onder provinsiale administrasie te plaas

AfriForum het vandeesweek hofstukke ingedien waarin dié burgerregteorganisasie vra dat die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit onder provinsiale administrasie geplaas word. Dié stap volg op die simboliese begrafnis vir dienslewering in Parys wat AfriForum in April gehou het. Ngwathe ervaar ’n ernstige diensleweringskrisis en veroorsaak dat die inwoners van al die dorpe onder Ngwathe se bestuur, naamlik Parys, Heilbron, Koppies, Edenville en Vredefort, gebrekkige tot geen dienste ontvang nie.

AfriForum versoek in sy aansoek dat die Bloemfonteinse Hooggeregshof verklaar dat Ngwathe se optrede in stryd met hul grondwetlike, wetgewende en regulatoriese verpligtinge teenoor inwoners van dié munisipaliteit is. Voorts word aangevoer dat die munisipaliteit faal om ’n veilige en leefbare omgewing vir inwoners te verseker. Die ineenstorting van die munisipaliteit is sigbaar in onder meer:

  • hul mislukking om die munisipale administrasie te struktureer en te beheer;
  • die algehele gebrek aan begrotings en enige beplanningsprosesse;
  • hul mislukking om uiting te gee aan die basiese behoeftes van die gemeenskap; en
  • hul uiterste mislukking om die maatskaplike en ekonomiese groei van die gemeenskap te bevorder.

Bogenoemde optrede van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit is teenstrydig met artikels 152(1) en 153(a) van die Grondwet en bied dus gronde vir AfriForum se aansoek om die munisipaliteit onder provinsiale administrasie te laat plaas.

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivierdistrik, moet die regering nou dringend by hierdie munisipaliteit ingryp om ’n totale verval van Parys, Heilbron, Koppies, Edenville en Vredefort te verhoed. “Dringende optrede is noodsaaklik, anders gaan daar binnekort niks meer te redde wees nie. Dit is van kritieke belang dat die regering nou toetree en ingryp anders sal AfriForum ander praktyke, soos saakwaarneming, oorweeg,” sluit Pretorius af.

Soortgelyke plasings